Horace Terry
Met ’n reeds groeiende begrotingstekort het die minister van finansies, Pravin Gordhan, steeds ruimte gevind vir R7 miljard se persoonlike belastingverligting. Oor die algemeen was ’n belastingverhoging te wagte, wat toe nie gebeur het nie. Daar is slegs enkele aanpassings vir inflasie rondom die persoonlike inkomstebelastingstrukture gemaak. So byvoorbeeld is belastingkortings vir persone onder 65 verhoog vanaf R11 440 tot R12 080. Die belastingkorting vir persone 65 en ouer, maar jonger as 75, is verhoog vanaf R17 830 tot R18 830, en vir die persone van 75 en ouer is die belastingkorting verhoog vanaf R19 960 tot R21 080. So ook is die belastingdrempels aangepas. Indien jy jonger as 65 is, is jou belastingdrempel verhoog vanaf R63 556 tot R67 111. Vir die persone van 65 en ouer, maar jonger as 75, is die belastingdrempel verhoog vanaf R99 056 tot R104 611.
Vir persone van 75 en ouer is die belastingdrempel nou R117 111 op vanaf R110 889. So is daar ook ’n effense aanpassing aan die inkomstebelastingskale vir individue gemaak om inflasie teen te werk. Enige persone wat op soek is na die nuwe belastingskale vir die 2013/2014- belastingjaar kan vir my ’n e-pos stuur na horace@jenwil.co.za. Nou natuurlik, na die “vergunning”, of “verligting”, van R7 miljard se persoonlike belasting, moet die minister die gelde iewers anders weer opmaak. Verwag dus ’n 23c styging in die prys van ’n liter brandstof, waarvan 8c na die padongelukkefonds sal gaan. Die rokers en drinkers gaan ook ’n aansienlike, addisionele bedrag in die Ontvanger van Inkomste se koffers meebring, nadat hy hulle sondes verder belas het. So sal ’n pakkie met 20 sigarette se prys met 60c styg. ’n Pakkie pyptabak van 25g sal met 32c styg. ’n Bottel hardehout (750ml) sal jou R 3.60 meer kos, ’n 750ml bottel vonkelwyn sal 56c meer kos, en ’n 750ml bottel wyn sal 19.5c meer kos. ’n Blikkie bier sal 7.5c meer kos. Laastens styg die heffing op plastieksakke vanaf 4c tot 6c.