Jong Vrystaters ryg tennistitels in

0
1369

GEORG VAN ECK

Verskeie jong Vrystaters het verlede week sterk op die voorgrond getree tydens Grens se Key Health-tennistoernooi en uiteindelik drie titels in die Selbourne-stadion in Oos-Londen verower. Ses Vrystaters, Hanri Stofberg, Jon-Bene Potgieter, Carmen Fichardt, Samantha Muller, Jan Berry en Philip Henning, het die kwarteindrondte van die enkelspel in verskillende ouderdomsgroepe gehaal.
In die enkelspel-wedstryde was dit veral Henning, Berry en Stofberg wat uitgeblink het. In die seuns onder 16-afdeling het die derde gekeurde Berry in die kwarteindrondte met Norval Rossouw (Grens) 7-6, 6-1 afgereken. Sy volgende slagoffer was die eerste gekeurde Nikolas Pomdicas (Oos-Gauteng) wat hy 6-3-6-2 geklop het. Ongelukkig het hy in die eindstryd teen die tweede gekeurde Raubenheimer Gerber (Noord-Gauteng) 6-1, 6-0 vasgeval.

Stofberg het in die kwarteindrondte van die enkelspel vir meisies onder 16 met die tweede gekeurde Jamie Kronenberg (Sentraal-Gauteng) 6-2, 6-2 afgereken, maar in die halfeindrondte 6-2, 6-1 teen die derde gekeurde Cindy Dorrington (Boland) vasgeval.
Henning was die ster. Hy het in die afdeling van seuns o.12 as eerste gekeurde skoonskip gemaak deur Juston Cronje (Grens) 6-1, 6-2 en daarna met die derde gekeurde Charl Morgan (Sentraal-Gauteng) 6-0, 6-0 af te reken. Hy het die titel verower deur die tweede gekeurde Lleyton Cronje (Noord-Gauteng) 6-2, 6-2 te troef.

In die dubbelspel-wedstryde het die Vrystaters hulle ook laat geld en ses van hulle was in die halfeindrondte in aksie. Hanri en Lise Stofberg is in die dubbelspel vir meisies onder 16 deur die eerste gekeurde paar, Kaylin Dorrington (OP) en Corin de Waal (Boland) 6-1, 6-2 gestuit, terwyl die tweede gekeurde paar, Jon-Bene Potgieter (VS) en Phillipa Liasides (KZN), deur die OP-paar, Anchen Bosch en Megan Reed, 6-2, 6-2 geklop is.

In die halfeindrondte van die dubbelspel vir seuns onder 16 was dit die Vrystater Berry wat saam met Raubenheimer Gerber van Noord-Gauteng as eerste gekeurde paar hul stem dik gemaak het. Eers het hulle Clayton Herb (SG) en Justin Impey (OP) 6-7, 6-3 en 10-8 uitgeskakel. Daarna het hulle die titel verower deur die tweede gekeurde Jandre Lessing en Tiaan Mostert (OP) 6-2, 6-3 te klop.
Jon-Bene Potgieter (VS) het saam met Phillipa Laisides (KZN) as tweede gekeurde paar in die dubbelspel vir meisies onder 16 ook die halfeindrondte gehaal waar hulle deur die eerste gekeurde Cindy Dorrington (Boland) en Wilanie van Zyl (OP) 6-2, 6-3 geklop is.
In die dubbelspel vir seuns o.12 het Henning saam met Lleyton Cronje (NG) gespan om as eerste gekeurde paar die eindronde te haal nadat hulle die derde gekeurde paar van Grens, Rudolf Lubbe en Dylan Smith, 6-1, 6-1 afgeransel het. In die eindstryd was Henning en Cronje ook te sterk vir die tweede gekeurde paar, Charl Morgan (GS) en Jethro Newton (Grens), en het die titel verower deur hulle 6-0, 6-3 te klop.