Jong Vrystaatse krieketster by Protea-oefenkamp

0
Jong Vrystaatse krieketster by Protea-oefenkamp
Miané Smit hoop op ‘n plek in die Protea-vrouespan vir die span se komende toer na Australië. FOTO: VERSKAF

Miané Smit (18), kaptein van die Recon Tactical Vrystaat Vrouespan, is deel van die Protea-oefenkamp voor die komende toer na Australië.

Sy is ook deel van die Kovsie Vrouespan. Dié veelsydige speler was in September 2023 deel van die Suid-Afrikaanse Opkomende Vrouespan en was hoofmeisie van die C&N Sekondêre Meisieskool Oranje in 2023 – dieselfde jaar wat sy deel was van die Vrystaat Vrouespan wat na Divisie 1 gepromoveer is.

“Dit is baie lekker, en ’n wonderlike geleentheid om meer te leer en jouself te meet teen die land se bestes,” het Smit aan Bloemfontein Courant vertel.

Sy het ook bygevoeg, “danksy dié voorreg voel ’n mens ook maar senuweeagtig én opgewonde.” Smit het verduidelik dat sy baie by die kamp leer en dat sy die geleentheid geniet. “Die spelers [Protea-vroue en -afrigters] is baie goed en hulle hou daarvan as jy vrae vra,” het sy vertel.

Smit het gesê dat hulle ook hard oefen tydens die kamp. Sy speel al krieket vir so lank as wat sy kan onthou – “al van baie kleins af in die agterplaas saam met my pa, boeties en nefies”.

Sy is ’n regterhandse kolwer en draaibouler, en hoop om haar veelsydige talent te gebruik om vir haarself ’n plek in die Protea-span oop te speel.

In 2024 hoop Smit vir “baie lopies, paaltjies en vangskote”. Sy droom steeds groter, en hoop “om eendag die Proteas te verteenwoordig en ’n Wêreldbeker te wen”.

Die Protea Vrouespan speel hul eerste van drie T20-wedstryde teen Australië op 27 Januarie, voor drie eendagwedstryde, en ’n Toets teen die span wat hulself boaan die ranglyste van vroue-krieket bevind.

Warren Hawkins

Warren@mahareng.co.za

No posts to display