GEORG VAN ECK
Gaan Bloemfontein Suid-Afrika se tweede Formule Een-wêreldkampioen oplewer?
Gegrond op die ondersteuning wat Stuart White, 11-jarige graad vyf-leerling van Grey-kollege, verlede week van sakemanne op ’n manneaand aan die huis van sy pa, David White, in Rayton ontvang het, gaan die kranige jong rensteljaer (karting), Stuart White van die Zanardi/Roos Renstel-span, moontlik die volgende Jody Scheckter word.
Scheckter is in 1979 as F1-wêreldkampioen in sy Ferrari gekroon nadat hy ook vroeër vir die McLaren-, Tyrell- en Wolf-spanne gejaag het en in sy loopbaan 10 F1 Grand Prix-titels verower het. Hy is die enigste Suid-Afrikaner om dit te vermag. Scheckter het anders as Stuwie met ’n motorfiets begin jaag en later na renmotors oorgeslaan.
Die Vrystaatse sakemanne het saamgetrek vir ’n fondsinsameling vir jong Stuwie, soos almal hom noem, om oorsee teen die beste ter wêreld te gaan deelneem.
Die jong Vrystater, wat Sondag sy 11-jarige verjaardag gevier het, kon kwalik ’n beter geskenk gekry het, want hy het Maandag na Italië vertrek waar hy aanstaande week aan die wêreld-renstelkampioenskappe gaan deelneem.
“Hierdie week berei hy in wedrenne voor vir die wêreld ROK-eindronde wat van Woensdag af op die A.S.D. Suid-Garda-baan in Italië plaasvind,” het sy pa gesê.
Stuwie het reeds as sewejarige agter die stuur van ’n renstelmotortjie in die GP Junior Klas ingeklim om teen seuns van 10 tot 12 jaar mee te ding. Dit is presies waar die sewemalige F1-wêreldkampioen, Michael Schumacher van Duitsland, begin jaag het.
Stuwie het in 2009 sy merk begin maak toe hy tweede algeheel in die Bloemfontein Renstelklub se uitdaagreeks en derde algeheel in die Vrystaat-uitdaagreeks geëindig het. Hy ontvang die trofee vir die beste Opkomende GP Junior van die klub.
In 2010 verbeter hy daarop deur eerste in die GP Juniors in die Vrystaat-uitdaagreeks te eindig en hy behaal ook ’n nasionale derde plek in die GP Juniors in Kaapstad op ’n nat baan.
Weens sy prestasies het hy verlede jaar opgeskuif na die Minirok-klas vir deelnemers tussen agt en 13 jaar en eindig nasionaal 13de algeheel. Vanjaar sluit Stuwie hom by die professionele span, Zanardi/Roos Renstelspan, aan en onder leiding van die spanhoof, Etienne Roos, ’n voormalige renstelwêreldkampioen, gaan die jong jaer van krag tot krag.
Vanjaar het hy aan 12 wedrenne op streek en nasionale vlak deelgeneem. Op nasionale vlak het hy algeheel derde geëindig met goeie plekke in Port Elizabeth, Kaapstad, Idube en Vereeniging.
Op streekvlak wen hy ’n wedren op Zwartkop in Pretoria en haal nog twee podiumplekke in ses wedrenne. Op streekvlak is hy in die derde plek algeheel.