Jong sjef gereed om die kombuis te verower

0
Jong sjef gereed om die kombuis te verower

Maricelle Botha

Toe Charl Strydom verlede jaar die Food & Beverage Institute (FBI) se Skoolsjef van die Jaar-kompetisie gewen het, was dit duidelik dat dit presies die wegspringblokke was vir sy loopbaan in die kosbedryf. Terwyl sy pa groot aspirasies vir hom gehad om universiteit toe te gaan, het Strydom in gr. 10 reeds besluit dat die ‘adrenalien van die kombuis’ hom roep. "Toe ek vir die kompetisie ingeskryf het, het my pa gesê as ek onder die top-drie kom, hy sal betaal dat ek vanjaar hier kom swot," vertel hy met ‘n groot glimlag. Vandag is hy al vier maande sy eerste semester in en glimlag steeds breed!

Strydom vertel dat hy sedert Februarie fokus op die grondbeginsels van kookuns. Hy is al baie beter met ’n mes as die dag toe hy by FBI ingestap het. Twee van die goed wat hom egter verstom is die eindelose opsies wat ‘n mens het met die geur en gaarmaak van kos, veral as dit by groente kom. Hy roem egter op sy sopkookvernuf. "Ek dink ek is nogal heel goed daarmee. Miskien sal ek my ma leer hoe om sop te kook die vakansie," lag hy.

Hy vertel sedert hy verlede jaar die Skoolsjef van die Jaar-kompetisie gewen het, sy ma, Riana, ook in ‘n kranige kosentoesias ontaard het. "Deesdae is kosmaak altyd ‘n kompetisie."Ná ‘n lang dag by FBI is dit egter daardie bakkie pasta wat sy ma vir hom ingepak het wat hy geniet. "Ek is gewoonlik eenvoudig te moeg om saans te dink wat ek moet eet en dan is daar niks soos my ma se kos nie." Hy vertel hy glo steeds dat tussen die twee van hulle, sy ma die beter sjef is – vir nou.

Die tempramentele sjef, Gordon Ramsay, is Strydom se held. "Hy het uitstekende standaarde. Alles moet perfek wees," vertel hy. Hy hoop om eendag self so ‘n sjef te wees en uiteindelik ook sy eie pryswenner- restaurant te besit. Strydom lag as sy mening oor TV-sjefs gevra word. Hy vertel, met die bietjie kennis wat hy al opgedoen het, dit duidelik is dat die TV-sjefs se tegniek soms tekort skiet.

Sy gunsteling-restaurant in Bloemfontein is Bella Casa. "Hulle pizza is die heel beste!" Die dis wat hy die heel meeste van hou om te maak is Indiese botterhoender, "ek hou van die skop". Sy raad aan ander aspirantsjefs is om soveel moontlik aan kompetisies deel te neem. "Dit is ‘n geleentheid waar jou talent gesien kan word, maar ‘n mens moet onthou, om ‘n sjef te wees, is harde werk. Wat jy insit, is wat jy uitkry," meen hy.

maricelle@centralmediagroup.co.za

No posts to display