Jong man in hof weens moord op UV-dosent

0
667

CHRISTAL-LIZE MULLER

‘n Jong man sal na verwagting môre in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn in verband met die moord op ‘n dosent en nagraadse student aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), Lehlohonolo Mathengtheng, verlede maand.
 
Polisiewoordvoerder, Sinah Mpakane, sê die 18-jarige verdagte is gisteraand omstreeks 20:00 in Botshabelo buite Bloemfontein deur die polisie se misdaadintelligensie-eenheid en taktiese reaksie-eenheid (TRT) in hegtenis geneem.

Mpakane sê die verdagte en Mathengtheng was vermoedelik vriende. Die 27-jarige Mathengtheng is verlede maand wreed in sy woonstel in Willows in Bloemfontein vermoor. Sy keel is byna afgesny. Vriende het twee dae later op sy naakte lyk afgekom.