Jong Klijnhans beïndruk met die wilgerlat

0
984
CJ Klijnhans FOTO: GALLO

Die Itec Knights het hernude selfvertroue in die Krieket SA T20-uitdaagreeks in Gqeberha nadat hulle Maandagmiddag hul eerste sege van die toernooi beklink het.

Die span van Bloemfontein het die tuisspan, die Warriors, deeglik met ‘n nege-paaltjie oorwinning afgerantsel, en sodoende verseker dat hulle nie meer die enigste span in die toernooi is sonder ‘n wen nie, en ook die span se oorlewing in die toernooi verseker het.

Die groot punt van gesprek is egter die nuwe talent met die wilgerlaat wat ontdek is tydens die  druk-wedstryd.

Die 22-jarige aanvangkolwer, CP Klijnhans, het sy senior buiging gemaak in die kragmeting in die Baai, en het krieketaanhangers aan die praat.

Die jong lat van Kathu in die Noord-Kaap, wat aan die Universiteit van die Vrystaat studeer, en by Grey-kollege gematrikuleer het, het ‘n onoorwonne 67-lopies gemoker om die span na ‘n sege te help.

Die Knights moes egter in hulle beurt 171 lopies behaal vir die sege, en danksy 90 lopies deur die moker-man, Jacques Snyman, en Klijnhans se beurt is die teiken in 18.4 boulbeurte bereik.

Snyman het 10 viere sowel as drie ses gemoker in sy beurt van slegs 52 balle, terwyl Klijnhans op sy beurt 7 viere en 1 ses geslaan het tydens die 54 balle wat hy getrotseer het. Klijnhans se beurt het Snyman toegelaat om sy natuurlike spel te speel en dit was die grootste faktor in hul oorwining.

Die Knights se breier, Allan Donald, het aan Bloemfontein Courant gesê dat hy baie beïndruk is met Klijnhans en dat hy die krieketgemeenskap aan die praat het.

“Hy het my regtig beïndruk met die manier waarop hy net die wedstryd aanvat,” sê die voormalige Proteas snelbouler.

“Ek is baie bly vir CP. Almal in die hotel vra nou wie hierdie kind is en waar hy vandaan kom.

“Hierdie kind van Kathu het homself op ‘n groot manier kom aangekondig. Dit is wonderlik om ‘n paar jong talente soos Tristan Stubbs en CP Klijnhans te sien. Skielik is daar ‘n paar ouens wat op dag en wedstryde klaarmaak.”

Dit moet gesê word dat die boulwerk van die Warriors taamlik power was, maar nietemin het die spelers steeds beïndruk en hulle eerste deeglike toets kom Vrydag wanneer die Knights met Westelike Provinsie koppe stamp. Die span van Kaapstad is tans die enigste onoorwonne span in die toernooi en is reeds van hul plek in die uitkloprondtes verseker. – MORGAN PIEK