Jong Kleingeld maak ‘groot geld’

0
687
Emmaren is trots op haar bakvernuf en geniet haar gate uit wanneer sy kan bak en brou.

Emmaren Kleingeld se outisme staan nie haar pad om op 12-jarige ouderdom reeds haar eie geldjie te verdien nie.

Sy is op vier gediagnoseer met outisme. “Sy is hoogs funksionerend, maar uiters impulsief en het geen persoonlike grense nie. Sy sal sommer met enige persoon gesels,” vertel haar ma, Petro Kleingeld.

Nadat sy vir drie jaar in ‘n hoofstroomskool was, het haar ma besluit om Emmaren eerder tuis te onderrig.

“Na twee jaar van sweet en baklei en weer probeer, het prof. Venter ons aangeraai om eerder te fokus op vaardighede.”
Hulle het toe eers ‘n hoenderboerdery begin, maar die henne het te stadig gebroei na Emmaren se sin. Haar arbeidsterapeut, Daleen Venter. het toe voorgestel dat Emmaren bak.

Emmaren se pa, dr. Disie Kleingeld, sit gereeld hand by om haar te help.

“Ek het glad nie gedink dit gaan werk nie en aanvanklik was dit ‘n stryd om te keer dat sy nie te veel van ‘n bestanddeel ingooi nie. Sy het eers Rice Krispiekoekies gebak en toe sy dit bemeester het, het sy een oggend toe ek beskuit bak, gesê sy wil saam bak. Ek het vir haar ‘n bak neergesit en sy het my stap-vir-stap nageaap. So is The Bonny Baker gebore,” het Petro vertel.

Dit was duidelik dat sy mal is oor bak. Ma Petro het haar resepte vir haar begin oorskryf op ‘n manier wat makliker vir Emmaren is.
Sommer gou daarna word dit verpak met die slagspreuk, “Coping with autism one rusk at a time”.

Klein Emmaren is baie trots op haar bakvernuf en sal vir almal wat wil luister vertel dat sy haar eie beskuitbesigheid het. Sy loop mense trompop en vra: “Wil jy beskuit koop? Hoeveel pakke?”

Op die oomblik verkoop hulle drie soorte beskuit, sjokoladesnipperkoekies, skuimpies en Rise Krispiekoekies by Affiplaas-koffiewinkel op Trompsburg en ook aan vriende. Petro se ander dogter is in Eunice en die personeel daar is ook getroue ondersteuners.

Nadat Mag Marais, onderhoof van Eunice High School en organiseerder van die Eunice Mark, van hul beskuit gekoop het, het sy hulle genooi om beskuit op die Kersmark te verkoop. “Ek en Emmaren is Kersmark-fans en baie opgewonde oor die geleentheid. Ons bak ons natuurlik flou om betyds klaar te kry, maar geniet elke oomblik. Wat vir my wonderlik is, is om te sien hoe ‘n kind wat in die klassie heeltyd gesê het, ‘ek kan nie’, nou skielik soveel selfvertroue het.”

Die hoogtepunt tot dusver vir Emmaren was toe sy vir die eerste keer vir haar klere gekoop het met haar eie geld. Sy het opgewonde gesê dat haar boetie, wat op universiteit is, en haar sussie, wat in matriek is, nog nie hulle eie besighede het nie. – Jeretha Oosthuizen
jeretha@mahareng.co.za