Die man wat van die moord op Evan Sorour (28), ’n boer van Ficksburg aangekla word, Rudi Gericke (38), verskyn weer Donderdag in die landdroshof waar hy na verwagting om borgtog sal aansoek doen.
Gericke het verlede week in die landdroshof verskyn, waarna die saak tot vandeesweek uitgestel is. Netwerk24 het berig ’n bleek en ooglopend siek Gericke is deur die landdros toegelaat om in ’n rolstoel te sit nadat hy vir ’n kort rukkie in die beskuldigdebank gestaan het.
Hy het twee hofverskynings dié dag gehad: eers vir die moord op Sorour en daarna het hy saam met sy vriend en vennoot Jan le Grange (35) in verband met ’n bakleiery by Ficksburg se gholfklub verskyn.
Gericke was juis uit op borgtog vir dié bakleiery toe hy en Sorour mekaar glo op 8 Januarie geskiet het. Maroela Media het vroeër berig dat Sorour vyf keer geskiet is en op pad hospitaal toe aan sy beserings beswyk het. Sorour se pa, Reuter, is erg aangerand. Gericke het ’n skietwond opgedoen.
Pa en seun het op dié dag van hul beeste uit ’n kamp gejaag op die plaas waar Gericke ’n huis huur. Gericke het hulle glo agtervolg en gedreig, waarna die skietery plaasgevind het.
Gericke is vir weke lank in ’n private hospitaal in Bethlehem onder polisiebewaking gehou, waar hy sewe operasies vir die skietwond in sy heup en buik ondergaan het.
Hy is daarna na die tronk in Kroonstad oorgeplaas, maar is intussen weer ’n tyd lank in Ficksburg se provinsiale hospitaal opgeneem. Hy word tans in die mediese afdeling van die tronk in Kroonstad aangehou.
Beide die moord- en aanrandingsake teen Gericke is tot 20 April uitgestel.
Intussen is ’n Facebook-bladsy, Justice for Evan Sorour, begin om sy familie te ondersteun in hul soeke vir geregtigheid. ’n Lywige petisie met meer as 10 000 handtekeninge is by die NVG se kantore in Bloemfontein en Pretoria ingedien om borgtog vir Gericke teen te staan.
Netwerk24 berig dat Gericke en Le Grange en die boeregemeenskap van Ficksburg al lank in ’n konflik gewikkel is. Beide is veespekulante maar boere sê glo hulle “hou nie van die manier waarop die mans sake doen nie”.
Die plaaslike boerevereniging wou hulle ’n paar jaar gelede nie as lede toelaat nie, en die verhouding het toe verder versuur.