Jong Bfn-sjef kook op jou kassie

0
679
Die 21-jarige aspirant-sjef, Ravi Naicker, op die stel van Sjefhuis.

Die 21-jarige Bloemfonteinse aspirantsjef, Ravi Naicker, verskyn binnekort op jou kassie in VIA TV se Seisoen 4 van die gewilde program Sjefhuis.

Dié kosliefhebber wat in Bloemfontein gebore en getoë is, het van ‘n baie jong ouderdom af ‘n groot passie vir kosmaak en tyd in die kombuis deurbring. Hy vertel van die kosbaarste herinneringe van sy kinderjare is die tyd wat hy saam met sy ma en ouma in die kombuis deurgebring het.

“My ouma en oupa wou altyd hê ek moet op TV wees. Toe ek vir hulle sê dat ek ‘n sjef wil word, het hulle onmiddellik besluit dat ek op een van daardie kookprogramme moet wees,” sê Naicker.

Terwyl hy eendag na ‘n kookprogram sit en kyk het, het hy ‘n advertensie gesien oor ‘n kookkompetisie vir Sjefhuis. Hy het sonder om te huiwer ingeskryf, maar is ongelukkig nie vir die program gekies nie. Hy het egter ‘n paar maande later ‘n oproep ontvang van die vervaardigers wat wou weet of hy sou belangstel om by Seisoen 4 van die program aan te sluit. Hy was so in sy noppies dat hy dadelik ingestem het.

In die kompetisie wat vandag (Donderdag 13 Januarie) afskop, ding agt sjefs teen mekaar mee in daaglikse uitdagings.

“Die opname van die program het my persoonlik laat besef hoe geseënd en gelukkig ek was om die geleentheid te kry. ’n Jong seun van Heidedal gaan op nasionale televisie wees! Dit is groot vir my,” sê Naicker.

Naicker is nie net die jongste op die program nie, maar ook die enigste student. Hy hoop dat dié program ‘n inleiding tot die gasvryheid- en dalk selfs die TV-bedryf vir hom sal wees. “Ek glo dat eerste indrukke blywend is, so dit sal die wêreld se eerste indruk van my wees,” sê Naicker.

Pierce van Heerden

pierce@mahareng.co.za