Jonathan Jansen se bedanking verwelkom én betreur

0
Jonathan Jansen se bedanking verwelkom én betreur

Prof. Jonathan Jansen se bedanking vandeesweek het gemengde reaksie ontlok.
Regter Ian van der Merwe, voorsitter van die Universiteit van die Vrystaat (UV) se raad, beskou dit as ‘n groot verlies. Volgens hom is die raad egter dankbaar vir Jansen se visie en inspirerende leierskap. Jansen het die universiteit deur moeilike en komplekse tye gelei. Dit sluit onder meer gebeure ná die Reitz-voorval en die onlangse studenteprotesaksies op die Bloemfontein-kampus in. Hy het ook bestendigheid verseker en respek vir die UV uit alle geledere afgedwing. Daar is ook groot waardering vir Jansen se deursettingsvermoë met die wyse waarop hy die UV se akademiese prestasies en die transformasieproses bevorder het. Jansen het ‘n rol gespeel in die verbetering van die UV se slaagsyfer en die getal gegradueerde studente, die verhoging in die persentasie akademiese personeel met doktorale kwalifikasies, die toename in navorsingsuitsette en die groei in personeeldiversiteit en derdestroominkomste.
Alana Bailey, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, meen verskeie omstrede uitsprake deur Jansen oor rasseverhoudinge en Afrikaans as onderrigtaal aan die UV, het daartoe gelei dat studente toenemend weens hul ras gepolariseer is. Die weerstand teen Afrikaans as taal het ook verhoog. Dié burgerregte-organisasie en AfriForum Jeug, asook Solidariteit, het aangedui dat daar voortgegaan word met hul regsaksie teen die UV ná ‘n raadsbesluit dat Engels vanaf 2017 die enigste onderrigtaal gaan wees.
Die Solidariteit-beweging se voorsitter, Flip Buys, het sy hoop uitgespreek dat die aanwysing van Jansen se opvolger met die nodige deursigtigheid en agting vir die UV se regulasies rondom die verkiesingproses sal geskied. Volgens hom rus daar ‘n groot taak op die UV-raad se skouers om ‘n geskikte opvolger aan te wys. Dit moet iemand wees wat die universiteit te midde van die heersende kultuur van konflik en geweld na nuwe hoogtes kan neem.
Die UV se Alumni-voorsitter, dr. Pieter du Toit, sê Jansen het baie vermag, maar sekere kwessies op die kampus kon sedert verlede jaar op ‘n meer positiewe en bepalende wyse hanteer gewees het. Hy sê talle studente en alumni meen sekere sensitiewe sake kon eerder deur deeglike gesprekvoering opgelos word as deur revolusionêre retoriek.
Courant-lesers het ook hul mening op Facebook gedeel. Douw Raimondo skryf: “Ja, navorsing en boeke praat nie terug nie. If you can’t stand the heat, get out of the kitchen, ou grote.”
Rudie Kruger meen Jansen maak nou spore nadat alles “goed opgeneuk is”. – Christal-lize Muller
christal-lize@centralmediagroup.co.za

No posts to display