Twee hoëprofiel-korrupsiesake – insluitende die skuldigbevinding van voormalige Noord-Kaapse LUR vir Finansies – vorm deel van ‘n multimiljoenrandsaak wat by die Anti-Korrupsie Taakspan in die provinsie geregistreer is.
Block is verlede jaar Oktober saam met die direkteur van Trifecta, Christo Scholtz, in die Kimberleyse hooggeregshof skuldig bevind aan bedrog, korrupsie en geldwassery.
In nog ‘n saak in die provinsie word die hoof- finansiële beampte en bestuurder van die Departement van Ekonomiese Ontwikkeling ondersoek in verband met beweringe dat hulle verskeie maatskappye gestig het wat miljoene rande se toelaes van die departement ontvang het.
Die hoof van die Valke en die anti-korrupsie taakspan, Berning Ntlemeza, het aan die Portefeuljekomitee vir Openbare Rekeninge gesê dat al die sake in Noord-Kaap meer as R880m beloop. Hy sê 32 regeringsbeamptes en lede van die publiek is in die sake betrokke.
Intussen is Block se vonnisoplegging tot Februarie volgende jaar uitgestel en die ondersoek na die beamptes van die departement van ekonomiese sake gaan voort.
Cathy Dlodlo/Courant News