Lani Fouché
Katrien se sagte blou oë verklap ‘n klein stukkie van die beproewing waardeur sy en haar familie in die afgelope jaar is, maar daar is steeds ‘n glimlag op haar lippe. Sy het immers in 2013 twee kleinkinders ryker geword, maar dié vreugde moes sy oor ‘n afstand met haar man deel.
Want hy is tans in die tronk.
Johan Prinsloo word tans stoksielalleen in die Vrystaatse Hooggeregshof verhoor weens die beplande moord op top ANC-leiers tydens die party se Mangaung-konferensie in 2012. Hy word van hoogverraad, sameswering om terreurdade te pleeg en die onwettige besit van ammunisie aangekla.
Katrien is veral hartseer omdat haar man op 18 Januarie sy tweede verjaarsdag in die tronk moes vier, en reeds twee keer Kersfees agter tralies moes deurbring. “Ek is nie eers toegelaat om hom op Kersdag te sien nie, omdat hy steeds verhoorafwagtend is. Slegs dié wat gevonnis is kan op naweke en vakansiedae besoekers ontvang. Ek het hom ook nie op sy verjaarsdag gesien nie, want ek móés werk. Ek’s reeds so baie weg van die werk af omdat hy hier in die tronk is.” Katrien gesels só op Dinsdagmiddag na die hofverrigtinge terwyl sy wag om haar man totsiens te soen. Sy voetboeie kletter-kletter terwyl hy na haar toe loop.
Sy kon minstens naby aan Kersfees vir Johan en van sy ander tronkvriende ‘n reuse-Woolies-ete – nagereg en al – na die tronk neem. “Ek kon dit nie glo nie – hulle het alles deurgelaat!”
Met sy gesondheid gaan dit “oukei”, en met die familie gaan dit goed. “Dit kan nie anders as om goed te gaan nie. Wat moet ons doen? Ons is in hierdie situasie, nou moet ons die beste daarvan maak,” sê Katrien. Sy vertel dat Johan nie spyt is oor die jaar wat verby is nie, omdat hy nog nooit so naby aan die Here was nie.
“Ek neem gereeld vir hom Christelike boeke, en hy verorber dit. Hy’t baie tyd – elke dag van 14:30 tot die volgende oggend 7:00 word hulle alleen in hul selle toegesluit. Dis uitmergelend.”
“Ons voel nie meer die seer nie. As ons terugkyk na die jaar wat verby is, besef ons hoe die Here ons gedra het.” Sy wys briewe wat sy saam met haar dra wat ander gevangenes vir Johan skryf. Hy is vir hulle ‘n inspirasie: “…hoe oom hier onskuldig sit en steeds ‘n inspirasie vir ons kan wees…”
Johan is alleen in die beskuldigdebank dié week omdat Martin Keevy reeds verlede jaar onbevoeg verklaar is om verhoor te word, en Mark Trollip reeds verlede jaar skuldig bevind is. Hein Boonzaaier is vroeër op alle aanklagte teen hom vrygespreek.