Jeugsentrum vir meisies vra hulp van gemeenskap

0
388
I-Kids crèche

Die I-Kids-crèche van Therapéa is op 31 July 2017 gestig as deel van ‘n droom om die Therapéa-kinder en jeugsorgsentrum in Fichardtpark te befonds. Die sentrum is ‘n veilige hawe en tuiste vir agtien meisies wat deur verskillende traumatiese ondervindings in hul lewe gegaan het.

Ongelukkig het dit weens verskeie redes onmoontlik geword om finansieel te oorleef en dié nie-winsgewende organisasie (NWO) doen nou ‘n beroep op die gemeenskap om hulle by te staan aangesien hierdie sentrum hulle baie na aan die hart lê.

Een van die ouers van ‘n leerder by I-Kids, Marelize Snyman.

Een van die ouers van ‘n leerder by I-Kids, Marelize Snyman, verduidelik dat dit ‘n droom van die personeel van I-Kids was om die meisies wat in die sorg van die Therapéa-gemeente is, te ondersteun. “Die meisies by die sentrum wissel van 9 maande oue babas tot meisies van 18 jaar. Hulle word in die sorg van Therapéa geplaas deur verskeie welsynorganisasies totdat hulle met hul gesinne herenig kan word ná berading en ander programme. Hulle ontvang terapeutiese behandeling en volg ontwikkelingsprogramme waar aandag gegee word aan die kognitiewe, emosionele, fisieke en sosiale aspekte in hul lewe.”

Soos met enige kerk en NWO is die tuiste vir meisies sowel as die crèche uiters afhanklik van die gemeenskap en borgskappe om te verseker dat die leerders van I-Kids en die meisies van die Therapéa-jeugsorgsentrum die beste sorg en geriewe het. Snyman sê hulle het die ondersteuning van die gemeenskap nodig. Enige donasie, in watter vorm ook al, is welkom. “Die kinders het alles nodig wat in ‘n gewone huishouding benodig word – kos, toiletware, klere, skoolklere en -benodigdhede.” Hulle hoop dat hoe meer leerders deur die crèche aanvaar kan word, hoe makliker sal die kerk kan aanhou om die meisies van die jeugsorgsentrum te versorg en te ondersteun.

Volgens Snyman word die leerders by I-Kids onderrig deur die voorbeeld wat onderwysers stel; hulle is dissipels van verandering en doen alles in hul vermoë om die beste aan die kleuters en voorskoolse kindertjies te voorsien. Die crèche bied half- en voldag-opsies, volg die voorgeskrewe curriculum, en het kameras op die perseel, ‘n buite-speelarea sowel as ‘n veilige klasomgewing vir ouderdomme 1 tot 5 jaar.

Indien daar enige persone is wat graag wil help of ‘n lys van benodigdhede vir die crèche en die jeugsorgsentrum wil bekom, kan hull die sentrum direk kontak by 082 657 1257.

Sazly Hartzenberg

sazly@mahareng.co.za