Jeug maak slaapsakke vir haweloses

0
309
Feesgangers besig om die slaapsakke aanmekaar te sit

Die Verenigende Christen Studentevereniging (VCSV) het onlangs ‘n feesdag gehou op die VCSV-Retiefkampterrein wat langs Maselspoort geleë is. Die jeug is hier geleer hoe om slaapsakke uit koerantpapier en plastieksakke vir haweloses te maak.

Die idee was om minderbevoorregte mense te help om sag te kan slaap terwyl hulle ook warm bly. Van vroegoggend af is ‘n heerlike program aangebied en daar kon heerlik gesmul word aan die eetgoed van die kosstalletjies.

Lulu van der Berg, provinsiale hoof van die VCSV, het aan Bloemfontein Courant vertel hoe lekker daar gedans, gesing, paintball gespeel en rots geklim is. Die groot hoogtepunt was die werksessie aangebied deur Rebecca de Wit en Yolandi Klopper van Torings van Hoop (Tweetoring-gemeente in Bloemfontein) waar die jongmense gewys is hoe om “straat-slaapsakke” te maak uit swart sakke en koerantpapier. “Dit was ‘n belewenis,” het Van der Berg gesê.

“Nadat hulle gewys is hoe om dit te doen, het ons die kinders in groepe verdeel en kon hulle hul eie slaapsakke maak.” Groot opgewondenheid het geheers toe die slaapsakke aan Torings van Hoop geskenk is. Dié instansie sal toesien dat die slaapsakke by diegene uitkom wat dit nodig het.

Van der Berg sê dat die wonderlikste die getal skole was wat op die feesdag teenwoordig was. Die jongmense gaan op hul beurt by hul skole ‘n verskil maak asook in hul gemeenskappe deur “straat-slaapsakke” te skenk aan mense wat dit nodig het. “Ons is dankbaar dat ons ook deur die feesdag iets kon doen wat weer betekenis vir iemand anders sal gee.”

Om die slaapsakke te maak is heel eenvoudig, sny swartsakke langs kante oop, plak twee langs mekaar vas. Pak dan koerantpapier bo op vas en maak dit toe en plak vas.
Die VSCV hoop dat baie mense hul voorbeeld sal volg om koerante en plastiek bymekaar te maak om haweloses te help.

Vir meer inligting oor hoe presies om hierdie slaapsakke te maak, kontak gerus vir Lulu van der Berg by 082-959-4547.

Heidre Malgas

heidre@mahareng.co.za