Jennifer gaan Rosestad vermaak

0
1749

Die gewilde sangeres en dubbele Ghoema-musiektoekenningwenner, Jennifer Zamudio, gaan op aanvraag weer by Innie Skuur optree.
Na reeds langer as 15 jaar in die Afrikaanse musiekbedryf geniet Zamudio steeds ‘n suksesvolle loopbaan.
Sinoniem met styl, harde werk, sukses en energie, is Zamudio op die verhoog ‘n onbeskryflike bondel energie en met haar natuurlike aanvoeling vir vermaak, kry sy vinnig haar gehoor in die palm van haar hand. Haar spontane, gemaklike Weskus-humor laat menige konsertganger skater van plesier terwyl hulle net eenvoudig nie kan stilsit in haar vertonings nie.
Zamudio het haarself goed in die musiekbedryf gevestig as sanger, liedjieskrywer en seremoniemeester, en net soos wat sy daarvan hou om musiek met lekker woema te sing, is sy gaande oor haar ernstige emosionele ballades wat haar kenmerkende alt-stem tot sy volle reg laat kom.
Die sangeres toer letterlik die land vol, selfs tot in Namibië, waar sy groot aanhang geniet. Van haar grootste loopbaanhoogtepunte sluit in haar liedjie, “Ek sal berge klim vir jou”, van haar CD-album, Die lewe is ‘n liedjie. Dié album het SA verteenwoordig op die Global Song Contest 2011 waar 150 lande deelgeneem het. “Ek sal berge klim vir jou” het 16de plek gehaal.
Zamudio het haarself al goed in die vermaaklikheidsbedryf gevestig. Sy word beskou as een van die land se voorste Afrikaanse vermaaklikheidsterre.
Haar vertoning vind op Donderdag 7 September om 19:30 by Innie Skuur plaas. Koste beloop R120 per persoon. Kaartjies is te koop by KiKi’s Corner in Langenhovenpark of bel gerus 079-387-3614.

– JERETHA OOSTHUIZEN
jeretha@mahareng.co.za