Jasper en Booysen verheug oor Cheetahs-kontrakte

0
792
Zinedine Booysen van die Ixas tydens hul onlangse Varsitybeker oorwinning teen die Maties in Pretoria. FOTO: VARSITYBEKER Photo: Brendan Croft/ Varsity

Die vlugvoetige heelagter van die Sentrale Universiteit vir Tegnologie Ixias, Cohen Jasper, en sy spanmaat, die belowende skrumskakel Zinedine Booysen, is albei deur die Toyota Cheetahs gekontrakteer.

Die paar is nie net twee van die uitblinkers vir die Ixias nie, maar ook die Varsitybeker vanjaar, en hul kontraktering deur die senior Cheetahs-span is sonder twyfel welverdiend.
Jasper is bekend vir sy aanvallende spel en het die vermoë om uit die bloute ‘n wedstryd om te swaai en te wen. Jasper het aan Bloemfontein Courant gesê dat een van sy doelwitte vir vanjaar was om ‘n kontrak te verdien by die Cheetahs.

“Ek is baie bly oor die kontrak wat ek hier by die Cheetahs gekry het. Dit was een van my doelwitte om ‘n kontrak by die senior span te kry, maar vir eers, dankie aan SUT, wat my die geleentheid gegee het om my talent op die veld uit te leef. Ek dink ek sal by die Cheetahs inpas, want hulle hou daarvan om aan te val en dit is een van my sterk punte.”

Jasper, afkomstig uit die Boland, het die provisie tydens die 2017-Cravenweek verteenwoordig. Die oudleerder van HTS Drostdy in Worcester studeer tans Inligtingstegnologie aan SUT.

Booysen, die man wat vernoem is na sy pa se gunsteling-sokkerspeler, Zinedene Zidane, is oorspronklik afkomstig van Oudtshoorn in die Klein Karoo en het op sy beurt SWD verteenwoordig in die 2016-Cravenweek. Hy het ook in daardie jaar die Suid-Afrikaase A-skolespan gehaal.

Die oudleerder van Oakdale in Riversdal het ook voorheen die Universiteit van die Vrystaat Shimlas verteenwoordig in die Varsitybeker.

Booysen sê hy sien daarna uit om saam met die seniors te speel, maar die fokus is vir eers op die Varsitybeker.

“Ek sien daarna uit om saam met Ruan Pienaar en Tian Meyer te werk, maar my eerste prioriteit is nog die Varsitybeker. Ek wil nog die Varsitybeker wen en dán sal ek op die seniors begin fokus wanneer ek aansluit by die Cheetahs. Hopelik kan ek in die volgende jaar of twee my senior buiging maak en myself op die radar plaas.”

Albei spelers het reeds die Vrystaat o.21-span verteenwoordig en sal na afloop van die Varsitybeker by die senior Cheetahs-span aanmeld. – MORGAN PIEK