Jansen sê hy het nou sy deel gedoen

0
Jansen sê hy het nou sy deel gedoen
Prof. Jonathan Jansen.

Die Universiteit van die Vrystaat (UV) se visekanselier en rektor, Jonathan Jansen, het dit uit die staanspoor duidelik gemaak hy beplan om slegs vir sewe jaar by die UV aan te bly. Jansen het aan Bloemfontein Courant gesê dít is genoeg tyd om ‘n impak op ‘n instelling of organisasie te maak. Jansen glo hy en sy toegewyde span het sedert sy aanstelling in 2009 baie vermag. Daar is egter nog baie wat gedoen moet word. Jansen beskryf sy termyn as ‘n wonderlike tyd wat hy baie geniet het. Hy verwys ook na die goeie ondersteuning wat hy van studente en gemeenskappe ontvang het. Jansen se besluit om vanjaar op 31 Augustus uit te tree om ‘n uitnodiging as genoot aan die Sentrum vir Gevorderde Studies in Gedragwetenskappe aan die Stanford-Universiteit in Amerika te aanvaar, is nie geneem weens die onglangse gewelddadige betogings en ander verwante voorvalle op die Bloemfontein-kampus nie.

Jansen “beplan nie die toekoms op grond van een of meer voorvalle wat goed of sleg is nie.”  Hy meen universiteite sal ongelukkig in die toekoms met nóg meer voorvalle, te doen kry.  “Ek het 18 ure per dag, sewe dae per week, insluitend naweke en openbare vakansiedae gewerk. ‘n Mens maak ‘n bydrae en doen wat jy kan.” Jansen glo die UV het baie om op trots te wees, maar vir hom het die tyd nou aangebreek om nuwe uitdagings aan te pak.)

Jansen is op 1 Julie 2009 aangestel, waarna sy ampstermyn op 1 Julie 2014 deur die Raad van die UV vir ‘n verdere vyf jaar verleng is. Hy sê hy het in 2014 aangedui dat hy nie vir die volle vyf jaar gaan aanbly nie. Die raad het sy besluit aanvaar, hoewel onwillig.

Luidens ‘n mediaverklaring deur die UV-raad se voorsitter, regter Ian van der Merwe, is Jansen se besluit ‘n groot verlies. Sy besluit word egter aanvaar. Die raad is dankbaar vir sy visie en inspirerende leierskap. Jansen het die universiteit deur moeilike en komplekse tye gelei. Dit sluit onder meer gebeure ná die Reitz-voorval en die onlangse studenteprotesaksie in. Hy het ook bestendigheid verseker en respek vir die UV uit alle geledere afgedwing.

Volgens van der Merwe het die raad waardering vir Jansen se deursettingsvermoë met die wyse waarop hy die UV se akademiese prestasies en die transformasieproses bevorder het. Jansen het meegewerk aan die verbetering van die studenteslaagsyfer en die getal gegradueerde studente, die verhoging in die persentasie akademiese personeel met doktorale kwalifikasies, die toename in navorsingsuitsette en die groei in personeeldiversiteit en derdestroominkomste.

UV-woordvoerder, Lacea Loader, sê indien dié pos teen die einde van Augustus nog nie gevul is nie, sal die huidige viserektor: bedryf, Nicky Morgan, waarneem. Die raad sal binnekort met die proses om ‘n opvolger te vind, begin. – Christal-Lize Muller

 

No posts to display