Lani Fouché
Prof. Jonathan Jansen, rektor van die Universiteit van die Vrystaat, is gereeld in die sop oor skok-uitlatings wat hy tydens sy toesprake maak, maar hy geniet sy reg tot vryheid van spraak. En hy gebrúík dit. “Ek praat elke dag tussen sewe en agt keer met groepe mense – soms is dit voor tien mense in ‘n kamer, soms voor ‘n duisend mense, en dit is heerlik om my mening te kan lug.” Jansen meen dat hy vir te lank moes oppas wat hy sê. “Ek is ‘n kind wat aan weerskante van ’94 gebore is en een van die dinge wat vir my baie swaar was, was dat ek nie die boeke kon lees wat ek wou nie en ek kon nie sê wat ek wou sê sonder om in die tronk te beland nie. Deel van demokrasie is dat jy juis kan sê wat jy dink. Soms is jy verkeerd, soms nie. As jy verkeerd is, sê jy na die tyd jammer.” Hy meen mense moet nie in ‘n blik gedruk word om stil te bly oor sekere onderwerpe nie.
Jansen gee egter toe dat daar sekere onderwerpe is waaroor hy liewer swyg, juis oor sy prominente posisie by die UV. “Daar is natuurlik dinge wat ek as ‘n rektor nie sê nie, wat ek graag sou wou sê. Glo my, daar’s baie dinge wat ek maar vir myself hou – nie omdat ek bang is om my mening te gee nie, maar omdat ek ook aan die universiteit moet dink.” Die jongste toespraak waarvoor Jansen voor stok gekry is, is toe hy die afgelope naweek met sowat 250 studente by ‘n leierskapsberaad by die Bloemfontein-kampus gepraat het oor groot wêreldleiers, onder andere voormalige president Nelson Mandela, en hoe hulle hom geïnspireer het. Daar is in verskeie dagblaaie berig dat hy gesê het hy ‘wens Mandela wil nou doodgaan’ en dat 94-jariges nie gehospitaliseer word vir roetine-ondersoeke nie, maar eerder om te gaan sterf. Hieroor was die ANC glo die josie in. ‘n Dagblad het berig dat die woordvoerder vir die presidensie, Mac Maharaj, vies was oor Jansen se toespraak toe hy vir kommentaar genader is.
Jansen sê die berigte ontstel hom nie, omdat hy ‘weer’ uit konteks aangehaal is. “Ek het ‘n uur en tien minute gepraat oor leiers wat my inspireer, onder andere Nelson Mandela, Martin Luther King en Albert Luthuli. My boodskap was dat Mandela reeds so baie vir Suid-Afrikaners gedoen het en dat dit goed sou wees as hy sy laaste ruk op aarde in vrede kon deurbring en in vrede kon sterf, sonder die spekulasie oor sy gesondheid en die media wat voor sy huis kampeer.” Jansen meen ‘n joernalis het twee of drie woorde uit ‘n langerige sin geneem en dit laat lyk asof hy wil hê Mandela moet doodgaan. “Dis mos nie waar nie; ek wil – soos alle Suid-Afrikaners – hê Mandela moet vir nog ‘n honderd jaar leef! Maar ons almal weet dit is ongelukkig nie moontlik nie.”
Hy verduidelik verder: “Almal van ons wat ouers of grootouers verloor het, weet hoe dit voel. Jy wil nie hê jou geliefde moet sy of haar laaste dae met moeite en verdriet en ‘n groot geraas deurbring nie. Dit is eintlik waaroor my boodskap gegaan het.”