Jansen gaan nie nou verder kommentaar lewer oor Madiba-uitspraak nie

0
Jansen gaan nie nou verder kommentaar lewer oor Madiba-uitspraak nie

LANI FOUCHÉ

Die rektor van die Universiteit van die Vrystaat, Jonathan Jansen, sê hy gaan nie in hierdie stadium verder kommentaar lewer oor sy omstrede uitlatings oor Nelson Mandela nie.
Dit kom nadat die presidensie geëis het dat Jansen sy bewerings dat hulle gejok het oor Mandela se mediese kondisie in die hospitaal, bewys, of dit terugtrek. Jansen het volgens berigte Sondag tydens ‘n leierskapsberaad by die Bloemfontein kampus gesê die presidensie lei Suid-Afrikaners om die bos deur te sê Mandela is gehospitaliseer vir roetine-ondersoeke, omdat 94-jariges gewoonlik hospitaal toe gaan om te sterf. Hy het ook glo gesê hy wens Mandela sterf liewer.
Woordvoerder in die presidensie, Harold Maloka, het gesê hy neem eksepsie oor Jansen se beskuldigings dat die presidensie jok.
Jansen het vanmiddag by monde van sy woordvoerder, Lacea Loader, aangedui dat hy nie verder hieroor kommentaar wil lewer nie. Hy het gister gesê hy het in sy toespraak bedoel dat hy wens Mandela sterf in vrede.

No posts to display