Jannie du Toit vier halfeeu as sanger

0
510
Chanie Jonker, Jannie du Toit en Susan Mouton tree op Vrydag 3 Desember by die Aasvoëlklub op

n Aand van mooi musiek, lekker kuier en net weer bietjie “mens”-wees ná die verwoesting wat Covid-19 gesaai het, word vir alle Bloemfonteiners voorspel wanneer Jannie du Toit sy halfeeufeesviering in die Aasvoëlklub hou op Vrydag 3 Desember.

Volgens Gertjan Holtzhausen, ATKVstreeksbestuurder: Takke, het die ATKVtak Gemeenskapsteater besluit om Du Toit te ondersteun aangesien hy een van Afrikaans se grootste kunstenaars is wat diep spore getrap het in die sangmileu van ons land. “Ons het ontsaglike respek vir hierdie nederige, tog formidabele, sanger!” Holtzhausen vertel dat Du Toit hierdie jaar deur die land toer met verskeie produksies om sy 50 jaar as sanger te vier. Die ATKVtakke Gemeenskapsteater ondersteun hom hierin en organiseer die betrokke optrede wat in Bloemfontein gehou word.

Die produksie se titel vir die aand is Doep is nie dood nie. Du Toit word begelei deur Susan Mouton (tjello) en Chanie Jonker (klavier/trekklavier). Du Toit bring hulde aan een van sy boesemvriende, Koos du Plessis, wat op sy beurt een van die beste liedjieskrywers en digters in Afrikaans was. Hierdie vertoning is ’n versameling van Koos du Plessis se woord-en-musiek-nalatenskap en bewys aan oud en jonk dat sy werk tot vandag toe nog relevant is.

Bespreek by Holtzhausen deur 082 563 4457 te skakel of stuur ‘n e-pos na GertjanH@atkv.org.za. Kaartjies kos R100 elk. Die deure by die Aasvoëlklub open om 18:00 en daar is heerlike kos te koop. Die vertoning begin om 20:00.

Sazly Hartzenberg

sazly@mahareng.co.za