Die inspirerende storie van die sewejarige Janique Venter, wie se stryd teen ’n seldsame gewas die gemeenskap diep geraak het, is bekend aan Bloemfontein Courant se lesers.
Janique, wat na Memphis, Tennessee, gereis het vir ’n lewensveranderende operasie, het volgens haar ma, Nadine Mukheibir, net een wens gehad – “om ’n normale nek soos ander dogtertjies te hê”.
Ná die operasie toon opdaterings wat op die Facebook-blad “Hulp en Gebede vir prinses Janique” gedeel is, dat sy stadig maar positief vorder met haar herstel.

Op Sondag 2 Februarie kon Janique regop sit in die bed en ’n prentjie verf met ’n waterverfkwas as deel van spieroefeninge. Sy het ook vir ’n paar uur in haar stoel gesit om uit die bed te kom en later flieks gekyk voordat sy gaan slaap het.
Volgens die opdatering het sy ’n rustige nag gehad en net twee keer wakker geword. Alhoewel sy steeds pyn ervaar, is dit onder beheer.
Die Facebook-plasing merk verder op dat sy probeer om in klein porsies te eet, al sukkel sy steeds met af-en-toe naarheid en dat haar toestand onvoorspelbaar bly met goeie en moeilike dae, maar sy toon ongelooflike deursettingsvermoë.
Ondersteuners word versoek om aan te hou om vir Janique te bid en haar in hul gedagtes te hou terwyl sy dapper vorder op haar herstelpad.
Justine Fortuin