Jaco Jacobs doen dit weer!

0
493

Jaco Jacobs (skrywer) en Zinelda McDonald (illustreerder) is pas aangewys as die die wenners is van die Alba Bouwer-prys vir kinderliteratuur.

Jacobs en McDonald het die prys gewen met die gewilde rympiesboek Moenie hierdie boek eet nie!

Lapa, die uitgewer van dié wenboek, sê in ‘n verklaring die prys word deur die Akademie van Wetenskap en Kuns toegeken aan ’n boek vir lesers van 7 tot 12 jaar oud.

“Dié lawwe lekkerlagboek bevat 365 rympies (en ’n bonusrympie vir ’n skrikkeljaar) wat kinders (én grootmense!) heeljaar sal laat skaterlag!

“Daar is rympies oor oupas en oumas, goggas, krieket, ruimtevaarders, seerowers, spoke, skooltoilette, erdvarke, Kersvader, krokodille, volstruismelk, Valentynsdag, en dinge wat baie sleg ruik!” sê Lapa

Hoe lank is ’n weerwolf se humeur? Is enige iets erger as skottelgoed was? Wat soek jou ouma op die Pick n Pay se dak? Hoekom dra bere nie klere nie? Bestaan daar iets soos ’n spaghettiboom? Wat moet jy doen as ’n renoster jou jaag? Jy sal die antwoorde op al hierdie vrae vind in Moenie hierdie boek eet nie!

Die boek is by toonaangewende handelaars asook direk by Lapa-uitgewers beskikbaar. – Pieter Delport
pieterd@mahareng.co.za