Ixias wil weer ‘n punt bewys

0
323
Een van CUT Ixias-sterre in hul 2019-Varsitybekerveldtog, Ruan Wasserman. FOTO: MORGAN PIEK

Die 2020-weergawe van die gewilde Varsitybeker-reeks begin oor ongeveer twee weke en die opwinding begin reeds opbou.

Die Sentrale Universiteit vir Tegnologie Ixias van verlede seisoen was ‘n onverwagte aanspraakmaker op die titel maar het egter gestruikel voor die uitkloprondes. 2019 was sonder twyfel die span se beste jaar nog in die reeks nadat hulle drie oorwinnings aangeteken het en hul stadsvyande, die Universiteit van die Vrystaat (UV) Shimlas in Bloemfontein geklop het.

Hulle het tydens hul veldtog ook die Universiteit van Johannesburg met 27-26 die loef afgesteek en die Universiteit van Wes-Kaapland met 38-21 afgeransel.
Die 38-35 sege oor die Shimlas was egter die span se grootste oorwinning nog in die toernooi.

Verlede seisoen het die Ixias baie gefokus op hul voorspelerspel en hul verdediging. Dit het sonder twyfel in hul uitslae gewys. Vanjaar sal daar egter meer klem wees op die agterlynspel.

Die Ixias is heelwat van verlede jaar se spelers kwyt aangesien van hulle hul studies voltooi het of te oud is om in die Varistybeker te speel.

Die meesterbrein agter die span se onverwagte sukses verlede jaar, is hul afrigter, Pieter Bergh, wat verlede seisoen die span slegs op korttermynkontrak geslyp het. Bergh is intussen op ‘n langtermynkontrak aangestel.

Bergh is van mening dat die verwagting vanjaar sonder twyfel hoër sal wees, en aangesien daar vanjaar weer ‘n span of twee gerelegeer sal word, is daar baie meer druk. Bergh het aan Bloemfontein Courant gesê die relegasie is ‘n werklikheid en hulle sal net baie eerlik met hulself moet wees daaroor.

“Die promosie-relegasie is iets waaroor ons verlede jaar nie gepraat het nie, die fokus was op om te verbeter as ‘n span. Vanjaar is dit egter ‘n werklikheid en iets waaroor ons móét praat. Ons het dus in ons spanvergarderings reeds daaroor gepraat.

“Ons het onsself wel in ‘n goeie posisie geplaas met die gekombineerde punteleer van 2019/20. Ons begin met 14 punte, met UJ en UWC op 7 punte en Wits op 16 punte. Terwyl ons daaroor gepraat het, gaan ons nie die hele tyd oor ons skouer loer nie. Ons wil verbeter, en om te verbeter moet ons op die halfeind fokus en nie op die promosie-relegasiestryd nie.”

Die Ixias het ‘n week langer om voor te berei siende dat hulle ‘n eerste-ronde-loslootjie geniet. Die is egter nie ideaal nie, maar met Tukkies wat wag in hul eerste wedstryd, kan die sewe dae ekstra tyd om te slyp goud werd wees.

Ixias pak Tuks op 10 Februarie op SUT-park in hulle openingswedsryd van die veldtog. – MORGAN PIEK