Ixias speel eerste tuis, Shimlas reis

0
433
Die Ixias se kaptein, Luvuyo Ndevu, in aksie teen UJ saam Derik Pretorius wat nou by die Griekwas is. FOTO: VARSITY SPORTS

Die bepalings vir die 2022-Varsitybeker is bekend en die goeie nuus is dat die spanne weer voor hul lojale ondersteuners op hul tuisvelde in aksie sal wees. Die gewilde stutente-rugbytoernooi is in 2019 weens die Covid-19 pandemie kortgeknip, terwyl daar vanjaar geen ondersteuners teenwoordig was nie weens die feit dat die aksie agter geslote deure in ‘n bioborrel gespeel is.

Tensy dinge nie drasties verander ten opsigte van die Covid-19-situasie in die land nie, sal die spanne weer tuis in aksie wees, en vir eers met sowat 2000 ondersteuners teenwoordig, hoewel die getalle beslis meer sal wees teen die tyd dat die toernooi in Februarie van stapel gestuur word.

Albei Bloemfonteinse spanne, die Sentrale Universiteit vir Tegnologie Ixias en die Universiteit van die Vrystaat Shimlas staan reeds onder die leisels van nuwe afrigters en bestuurspanne het reeds met hul voorseisoen begin.

Die Ixias is onder die waaksame oog van die oud-Springbok-losskakel, Braam van Straaten, terwyl die skerpsinnige André Tredoux die Shimlas slyp.

Die Ixias sal  hul veldtog met ‘n tuiswedstryd afskop wanneer hulle op 14 Februarie teen die Universiteit van Johannesburg oftewel UJ, te staan kom. Die Shimlas sal op hul beurt na die Moederstad reis waar hulle in Bellville met die Universiteit van Wes-Kaapland swaarde sal kruis.

Van Straaten het aan Bloemfontein Courant gesê dat hulle daarna uitsien om hulself eerste teen UJ te meet.

“Ons speel teen UJ in Bloemfontein en ons sien uit na die uitdaging. Hulle het pas vir Jonathan Mokuena gewerf. Hy is nie net ‘n goeie ou nie, maar hy is ook ‘n goeie afrigter. Hy is al geruime tyd betrokke by die Varsitybeker en hy is ook ervare as afrigter. Dit is ‘n lekker beginwedstryd en ons het een of twee goeie wedstryde, dan kom ons te staan teen ‘n paar van die taaiste.

“Die Varsitybeker sal net nie dieselfde wees as daar nie ‘n skare is nie, so ons sien uit daarna om die ondersteuners daar te sien. Hopelik sal daar nie net 2 000 nie, maar ‘n bietjie meer aanhangers wees om die manne deur te trek en hulle iets te gee om voor te te speel.”

Op sy beurt besef Tredoux dat UWC ‘n taai toffie sal wees, maar hy het aan Bloemfontein Courant gesê dat hulle uitsien na hul eerste tuiswedstryd wat ‘n week later teen die vyfmalige kampioene, Maties, op Shimlapark sal plaasvind.

“Dit gaan ‘n moeilike begin wees teen UWK in Kaapstad. Paul Treu doen baie goeie werk en ons het baie respek vir die program wat hulle daar onder bou. Geskiedkundig is Maties een van die sterkste spanne in die Varsitybeker, maar dit sal goed wees om hulle in Bloemfontein te verwelkom waar die lug baie dunner is. Die spelers sien baie uit daarna en hulle het die afgelope drie weke baie hard gewerk.”

In 2021 het die Ixias ná ‘n baie sterk begin net-net die halfeindronde van die Varsitybeker misgeloop terwyl Shimlas elke nou en daar gewys het waartoe hulle in staat is, hoewel hulle met die sewende plek op die punteleer tevrede moes wees. – MORGAN PIEK