Ixias reeds op die wenpad in die Stadsbeker-rugbyliga van die Vrystaat

0
558

GEORG VAN ECK

Die FNB Ixias het hul segetog in die Vrystaatse rugbyklubliga om die Stadsbeker voortgesit toe die top-span van die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT) sy naasbestes, Tjisas, in die SUT-stadion 73-7, onder die stof geloop het.

Verskeie van die twee rugbyspanne se uitblinkers is deur hul afrigters ‘n ruskans gegun en dit was ‘n baie goeie geleentheid om die jong en talentvolle spelers van die klub in aksie te sien.

Die vonds van die wedstryd was ongetwyfeld Johan Ellis Olivier, wat gewoonlik losskakel vir die derde span van die SUT speel. Hy het in die Stadsbeker-kragmeting eers as heelagter en later as senter ingespan.
Olivier het die kans met albei hande aangegryp en nie minder as vier drieë vir die Ixias gedruk nie. Die lenige speler het met sy vaart, goeie hantering en die slim lyne wat hy gehardloop het beïndruk.

Ixias het uiteindelik elf drieë gedruk waarvan die losskakel, Jean Vos, nege verdoel het. Dit is moontlik gemaak omdat die agttal met Daniel de Jager, Len Noort, Jean Luc van Zyl, Fanie Coetzer en Dean Kauprihanoff aan die spits baie goeie balbesit gewen het.

Agter die agttal het die ratse skrumskakel, Marius Grobler, ook weer ‘n afgeronde vertening gelewer.

Tjisas se verdediging het hulle soms te maklik in die steek gelaat, maar nogtans het spelers soos Conrad van der Merwe, Carl Gersbach, Driaan van der Merwe en Hanco Pretorius met mening ingeklim en goeie stukkies spel gelewer.

Punte:
Ixias 73 (31). Drieë: Johan Ellis Olivier (4), Marius Grobler (2), Lean Luc van Zyl, Dean Kauprihanoff, Franco Naude, Fanie Coetzer, Daniel de Jager. Doel: Jean Vis (9). Ixias 24 (7). Drieë: Max Maloi, TC Nortjé, Driaan van der Merwe, Conrad van der Merwe. Doel: Hanro Pretorius, Max Maloi.