Ixias, julle dorings!

0
285
Die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT) Ixias en van hulle ondersteuners juig na hulle uitmuntende sege van 27-26. FOTO'S: MORGAN PIEK

Die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT) Ixias het Maandag tydens die derde ronde van die 2019-Varsitybeker vir ‘n reuse-opskudding gesorg toe hulle die Universiteit van Johannesburg (UJ) met 25-17 op SUT-park in Bloemfontein geklop het.

Hoewel albei die Ixias en UJ in hulle twee vorige wedstryde in die reeks vageval het, was dit te wagte dat die span van Gauteng hul eerste oorwinning op die kerfstok sou aanteken.
UJ was die eerste op die telbord toe die blitsige Odwa Nkunjana in die vierde minuut oor die doellyn gaan kuier het. Die tuisspan se heelagter, Heinrich Bitzi, het egter twee minute later ‘n strafskop deur die pale gejaag. Kort hierna het die haker, Anrich Alberts, die bal gedruk vir Ixias se eerste drie in die kompetitisie, en Bitzi het dit maklik vervyf.

UJ het egter met drieë deur Nkunjana en Stephen Bhasera teruggeslaan om teen rustyd met 19-17 voor te loop.

‘n Tweede Bitzi-strafskop in die 53ste minuut het verseker dat SUT die voortou neem, en ‘n drie deur die plaasvervanger-haker, Ruben Cross, het die telling net buite bereik van UJ geplaas.

‘n Shawn Williams-drie kon UJ van ‘n wen verseker, maar Jack Hart se vervyfskop, wat as ‘n “woer-woer-skop” beskryf kan word, was nie eens naastenby by die teiken nie.

Die Ixias se verdediging en skrumwerk was veral besonders en iets waarop die span trots kan wees. Die Ixias se breier, Pieter Bergh, het aan Bloemfontein Courant gesê dat die verdediging die kern van die span se spel is en iets waaraan hulle reeds lank op die oefenveld werk.

“Toe ek in November die leisels van die span oorgeneem het, het ek gesê dat ons aan die span se kondisionering en verdiging moet werk. Hulle het in die verlede baie drieë gedruk, maar hulle het ook baie afgestaan. Verlede seisoen het die span met ‘n punteverskil van minus 257 geëiding en hulle het amper die tipe rugby gespeel waar hulle geglo het dat hulle nie kan wen nie.

“Hulle die ingesteldheid gehad van al wen hulle nie, hulle slegs met vier drieë en bonuspunt tevrede sou wees. Ek het dit probeer verander deur te sê dat ons dalk minder drieë sal druk, maar ons eerder meer wedstryde sou wou wen, want so sal daar beter verdediging wees en ons sal fikser wees, aan die regte kant van die veld speel, en nie net drieë jag nie.

“Ons het soveel tyd aan verdediging en fiksheid bestee dat ons dalk die aanval ietwat afgeskeep het, en dit is dalk hoekom ons gesukkel het om oor die doellyn te gaan kuier. Met meer selfvertroue sal die span se aanval verbeter.”

Die Ixias pak aanstaande Maandag die kampioene, die Universiteit van Stellenbosch Maties, in Bloemfontein, maar vir nou kan die span hul ongelooflike sege geniet.

Ronde drie-uitslae – SUT Ixias 27 UJ 26; Wits 26 UV Shimlas 33; NWU-Pukke 37 UWC 21; UP-Tuks 24 Maties 26.

Ronde vier-bepalings (Maandag 25 Februarie) – UK-Ikeys vs. UJ, 16:45, Green Mile ; SUT Ixias vs. Maties, 18:30, SUT-park; UP-Tuks vs. Wits, 18:30, LC de De Villiers; UV-Shimlas vs. NWU-Pukke; 19:00, Shimla-park. – MORGAN PIEK