Ixias en Shimlas slaggereed vir Varsitybeker

0
113
Die senter, Ruan Wasserman, van die CUT Ixias teen die Universiteit van Johannesburg.Wasserman is not gekontrakteer deur die Valke. FOTO: MORGAN PIEK

Die 2021-Varsitybeker word vandeesweek van stapel gestuur wanneer die Sentrale Universiteit vir Tegnologie Ixias Sondagmiddag koppe stamp met die Universiteit van Johannesburg in Pretoria.

Die sal die eerste keer in meer as jaar wees dat die studenterugbyspelers die kans het om weer mededingende rugby te speel, en groot opwinding heers in die onderskeie kampe.
Vanjaar se toernooi sal sonder twyfel ‘n strawwe uitdaging wees vir spelers sowel as bestuurspanne weens die feit dat hulle ‘n minimum van nege wedstryde sal speel in ‘n tydperk van vyf weke. Om dinge meer uitdagend te maak, sal die toernooi ook in ‘n bio-borrel plaasvind by die Universiteit van Pretoria.

Die eerste twee dae sal baie moeilik wees vir die spelers en afrigters siende hulle nie hul hotelkamers mag verlaat weens Covid-19-protokol nie.

Die Ixias het verlede week ‘n oefenwedstryd teen die Noordwes Universiteit Arende (voorheen Pukke) te staan gekom, die die breier van die Bloemfonteinse span, Pieter Bergh, het aan Bloemfontein Courant gesê dat hoewel die uitslag van geen belang was nie, hy heel tervrede is met sy span se spel.

“Ons het verlede week ‘n oefenwendstryd teen die Pukke gespeel en ek is baie gelukkig met die span se vertoning. Die meeste van die spelers het vir tussen 30 en 40 minute gespeel. Ons het ‘n 34 spelers die geleentheid gegee om vir die eerste keer in meer as ‘n jaar te speel.

“Ons is baie tervrede met hoe dinge verloop het in daardie wedstryd en die spelers sien baie uit om te speel. UJ is ‘n taai teenstander, want mens weet nooit wat om van hulle te verwag nie.”

Bergh was ook van mening dat daar weens die aard van die toenooi een of twee opskuddings sal wees. “Hierdie jaar, met drie wedstryde in ‘n week, ‘n paar dae af, nog drie wedstryde, ensovoorts, sal altesaam nege wedstryde binne vyf weke vir die spelers en afrigters baie uitdagend wees.

“Ek verwag baie naelskraapse wedstryde, en ek verwag ook een of twee opskuddings, want ek dink nie dit is moontlik om met elke wedstryd op jou beste te wees nie, veral as spelers begin roteer, kontinuïteit verloor en beserings begin opdoen. ”

Intussen is die oud-Junior Springbok-skrumskakel, Rewan Kruger, aangewys as die Universiteit van die Vrystaat Shimlas se kaptein vir die seisoen.

Kruger, wat voorheen vir die Toyota Vrystaat Cheetahs gespeel het, is deur sy spanmaats as kaptein verkies. Die agtsteman, Ruwald van der Merwe, en die slot, Thabang Mahlasi, sal as onderkapteine dien.

Kurger het aan Bloemfontein Courant gesê aangesien daar nie verlede jaar ‘n kampioen gekroon is nie, vanjaar te toernooi baie meer mededingend sal wees.

“Daar was verlede jaar nie ‘n wenner gewees nie, en dit sal verseker dat elke span vanjaar ‘n kans staan in die Varsitybeker. Veral met twee nuwe spanne wat gaan deelneem. Hulle sal wil wys dat hulle baie beter is as die standaard in die Varsityskild. Hulle sal beslis hul stemme wil dik maak teen die topspanne van die Varsitybeker, so elke span sal vanjaar hul virsier hê op die titel.”

Die Ixias en UJ stamp Sondagmiddag om 17:00 koppe in die LC de Villiers-stadion, terwyl die Shimlas Maandagmiddag om 17:00 sake sal uitspook teen die Universiteit van Wes-Kaapland (UWC). – MORGAN PIEK