Ixias en Shimlas kou klippe in ronde vyf

0
124
Jorell Arries duik oor vir 'n sewepunt drieë tydens die UV Shimlas se naelskrapse nederlaag teen UJ. FOTO: VARSITY CUP G1 FNB UJ v FNB UFS Shimlas Jorell Arries of FNB SHIMLAS Catherine Kotze/Varsity

Ronde vyf van die 2021-Varsitybeker in Pretoria is een waarvan albei Bloemfonteinse spanne so gou moontlik wil vergeet.

Die Sentrale Universiteit van Tegnologie Ixias en die Universiteit van die Vrystaat Shimlas het albei tydens ronde vyf van die toernooi vasgeval.

Die Ixias, wat die toernooi sterk begin het, is Maandagaand ordentlik met 76-5 deur die Universiteit van Kaapstad Ikeys afgeransel, wat hul goeie, onoorwonne lopie tot dusver beëindig het. Daar moet gesê word dat die harde werk tydens die eerste bio-borrel deur die Ixias gedoen is en die afrigter, Pieter Bergh, het 12 veranderinge aan sy beginspan gemaak aangesien hy dieselfde span vir die eerste vier wedstryd gebruik het.

Hoewel die Ixias verloor het teen die span van die Moederstad, is hulle steeds vierde op die punteleer, en dit is belangrik.

Hulle het egter nog ‘n strawwe uitdaging wat Vrydag voorlê wanneer hulle teen die vyfmalige kampioen, die Universiteit van Stellenbosch Maties, te staan kom.

Die Shimlas kon op hul beurt net nie die knoop deurhak nie. Die span, wat in koningsblou truie speel, het Dinsdagaand vir die vierde keer vanjaar vasgeval terwyl hulle steeds nie ‘n sege kon beklink nie. Hulle is naelskraaps met 34-32 deur die Universiteit van Johannesburg geklop, en dit ten spyte van ‘n blitzkrieg van die Bloemfonteiners in die laaste 20 minute van die kragmeting.

Vir UJ was dit ‘n eerste oorwinning in 11 Varsitybeker-wedstryde. Die Shimlas se laaste sege was immers teen dieselfde UJ, toe hulle verlede jaar met 26-25 net-net in Bloemfontein koning gekraai het.

Die Shimlas kom Vrydag teen die Nelson Mandela Universiteit Madibaz te staan en sal dié kragmeting teiken vir hul eerste oorwinning. Die Madibaz word egter deur André Tredoux, wat op sy beurt jare lank by die Shimlas betrokke was, afgerig. Tredoux is ‘n slim breier en hy sal presies weet hoe en waar hulle die Shimlas kan teiken.

Soos sake nou staan, is die Madibaz heel onder op die punteleer, maar hulle is slegs twee punte agter die Shimlas, wat die negende plek beklee.

Vrydagmiddag se wedstryd tussen die Ixias en Maties op Tuks se B-veld skop om 14:00 af, en om 16:00 spook die Shimlas en Madibaz op dieselfde veld sake uit. – MORGAN PIEK