Is jy gereed vir die vakansie?

0
541

Die Kersseisoen is ophande. Baie van ons gaan vanjaar weer die langpad aandurf vir 'n welverdiende vakansie. Voor jy aan vakansie begin dink, neem net 'n paar minute en kyk na jou voorsiening. Maak seker alles is in plek en voldoende, net vir in geval… Elke jaar is daar meer werklose persone in Suid-Afrika en elke jaar wend van hulle hul tot misdaad om te kan oorleef. Die aanslag op jou en jou besittings raak dus jaarliks al hoe meer intens. Misdadigers word ook al hoe meer gesofistikeerd en werk baie keer saam in sindikate. Wees dus op die uitkyk vir vreemde verskynsels rondom jou huis. Misdadigers kommunikeer met mekaar en identifiseer hul slagoffers deur merke of tekens by huise wat hulle wil teiken aan te bring. Moenie net aanvaar dat jou korttermynversekering in plek is en al jou besittings reg gespesifiseer en omvattend (genoeg) gedek is nie. Korttermyn- en langtermynversekering is oor die algemeen ’n ‘snaakse’ ding. Jy kom eers agter jy is nie reg verseker nie die dag wanneer jy ’n eis indien en dit a gewys of slegs gedeeltelik betaal word. Lees dus deur jou verskillende versekeringskedules en vergewis jou van wanneer af en vir hoeveel jy en jou besittings verseker is. Gaan terselfdertyd ook deur jou testament en mediesefondsopsies. Leer die gewoonte aan om al jou dokumente en state in ’n lêer bymekaar te hou. As jy rekenaarvaardig is, kan jy alles inskandeer en op jou rekenaar stoor vir toekomstige verwysing. Jy kan selfs die nodige in plek kry om jou voorsiening jaar op jaar met mekaar te vergelyk. Dit sal jou hele finansiële posisie makliker interpreteerbaar maak  Neem dan jou motor vir ’n diens en maak seker alles wer nog soos dit moet en is nog in ’n goeie toestand. Jy wil nie iewers op ’n verlate pad gaan staan en blootgestel wees aan die elemente en kwaaddoeners nie. Kontak my gerus vir enige finansiële navrae. – Horace Terry