Is jy die volgende groot skrywer?

0
370

Die bekende landswye skryfwedstryd van die Bloemfonteinse Skrywersvereniging (BSV) in samewerking met NALN spog reeds sedert 1979 met ‘n ongeëwenaarde prestasie van die ontdekking en slyp van nuwe, onontdekte stemme in die skrywerswêreld. Volgens Corlietha Swart, voorsitter van die Bloemfonteinse Skrywersvereniging en dosent verbonde aan die Universiteit van die Vrystaat, lewer die wedstryd jaarliks nuwe, onontdekte skrywerstemme op wat kort voor lank debuteer. Om hierdie rede tree die Fakulteit Geesteswetenskappe van die Universiteit van die Vrystaat vanjaar vir die vyfde agtereenvolgende jaar as borg van dié skryfwedstryd op en prof. Lucius Botes, dekaan van die Fakulteit Geesteswetenskappe van die UV het vanjaar weer ‘n hele R15 000-prysgeld uitgeloof omdat die ontdekking van veral jong talent vir beide die BSV en die UV na-aan die hart lê. Vroeëre BSV-skolewenners wat later bekende skrywers geword het, sluit in die kinderboekskrywers, Jaco Jacobs, Fanie Viljoen en Carina Diedericks-Hugo, die digter, Carina Stander en Sonja Loots wat twee jaar gelede vereer is vir Sirkusboere. Onlangse wenners wat gedebuteer het, of ’n groot werk gelewer het kort na hul die skryfwedstryd gewen en die BSV-slypskool bygewoon het, sluit in wyle mnr. Piet Steyn wat kort daarna ontpop het in ’n formidabele rillerskrywer, mnr. Dirk Winterbach, wat kort na hy gewen het, op 76 gedebuteer het, dr. Hannes Haasbroek (sy boek oor Fischer het kort daarna opslae gemaak) en mnr. Japie Bogaards, wat gewen en toe gedebuteer het.
Veral skoolgroepe en tersiêre studente word aangemoedig om in groot getalle deel te neem aan hierdie tradisieryke skryfwedstryd met ’n heerlike verskeidenheid kortprosa- en poësie-onderwerpe. Ook vir Afrikaanse niemoedertaaldeelnemers is daar aanmoedigingspryse en ’n slypskoolbeurs op die spel. Genres waaraan skole en volwassenes kan deelneem, is: kortverhale, kortkortverhale, sketse/vertellings, essays en gedigte. Die kategorieë waaraan skole kan deelneem, is poësie en kortprosa vir Juniors (gr. 8 en 9) en Seniors (gr. 10 tot 12). Volwassenes kan deelneem in twee kategorieë, naamlik skrywers wat al voorheen teen vergoeding gepubliseer het, of skrywers wat nog nooit kreatiewe skryfwerk teen vergoeding gelewer het nie.
Skryfwedstrydwenners kom in aanmerking vir prysgeld, trofeë en sertifikate. Verder woon alle wenners, ook diegene wat eervol vermeld is, die BSV-Slypskool vir ontluikende skrywers gratis by. Hierdie geleentheid word vanjaar op Saterdag, 23 Augustus 2014 deur Chanette Paul, wat pas vir die tweede maal as gewildste skrywer by Lapa met die Lekkerlittoekenning vereer is, in Bloemfontein aangebied. Boonop word die skryfwedstrydwenners se weninskrywings jaarliks in die BSV-publikasie, Inkvars, gepubliseer. Dis ’n publikasie wat deur die Stichting tot Bevordering van Culturele Betrekkingen, Nederland/ Zuid-Afrika befonds word en met groot vrug deur stelwerkonderwysers in stelwerkklasse gebruik word, omdat die beoordelaarsverslae en –aanbevelings ook hierin opgeneem word as nuttige riglyne vir ontluikende skrywers.
Skryfwedstrydreëls en inskrywingsvorms kan self elektronies afgelaai word by http://bloemsv.wordpress.com of u kan die BSV-sekretaresse, mej. Lelani Fourie, kontak by bloemsv@gmail.com of by sel. 073-388-3377.