Horace Terry
Die meeste beleggers se 2012 het uit ‘n beleggingsopbrengsoogpunt baie positief afgesluit. Dit was nie snaaks om te sien hoe versigtige beleggers opbrengste van tot 18% vir 2012 verdien het nie, en meer aggressiewe beleggers tot meer as 30% vir die jaar verdien het nie. Die tipe opbrengste moet egter in perspektief gesien word en nie ’n onrealistiese verwagting vir 2013 en verder in die toekoms by jou skep nie. Die rede hoekom beleggers sulke bogemiddelde opbrengste in 2012 verdien het, is waarskynlik weens die swakker opbrengste wat in 2011 gelewer is en markte met ander woorde “ingehaal” het.
Natuurlik het die verswakking van die rand ook jou buitelandse komponent in jou portefeulje ’n hupstoot gegee. Aandele het in 2011 oor die algemeen 2.57% opgelewer, effekte 8.82% en eiendom 12.19%. In 2012 het die prentjie drasties verander en het aandele 26.68% gelewer, effekte 15.99% en eiendom 27.09%. Ons kan egter seker wees dat alles op finansiële markte sal terugkeer na ’n langtermyn-gemiddeld. Nou, hoe lyk die langtermyn-gemiddelde van die verskillende bateklasse? Navorsing van meer as ’n 100 jaar dui daarop dat jy kan verwag dat plaaslike aandele vir jou 7% bo inflasie behoort te gee, plaaslike effekte behoort 3% bo inflasie te gee, plaaslike kontant behoort 2% bo inflasie te gee en eiendom 6% bo inflasie.
Kom ons aanvaar inflasie is 6% en jy is ’n versigtige belegger wie se portefeulje min of meer soos volg lyk: 35% aandele-, 30% effekte-, 10% eiendom- en 25%-kontantblootstelling. Soos reeds genoem, sou jy in 2012 baie goed gedoen het; tot 18% (of 12% na inflasie) vir die jaar. Wat moet jy egter verwag van die genoemde portefeulje gegewe die langtermyn- reële opbrengste? Jy kan verwag dat jou aandele-komponent vir jou 2.45% na inflasie behoort te lewer, jou effekte-komponent ongeveer 0.90% na inflasie, jou eiendomkomponent 0.60% na inflasie en jou kontantkomponent 0.50% na inflasie. Dit kom neer op ‘n totale opbrengs van 4.45% na inflasie, of 10.45% in geheel. Natuurlik kan jy deur goeie, taktiese bate-allokasie ’n persentasiepunt of twee beter doen as 10.45%, maar dié punt by jou verwagting moet afwaarts aangepas word.
* Terry is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en beleggingsadviseur by Jenwil Blouster.