Is gewaarborgde beleggings nog relevant?

0
3596

Die beleggingsomgewing het uitgebrei. Beleggers het ‘n magdom van opsies beskikbaar en ‘n hele verskeidenheid van produkte tot hul beskikking om nommerpas-beleggingsportefeuljes saam te stel.
As ‘n belegger het jy letterlik die wêreld tot jou beskikking. Dit maak nie saak of jy R10 000 of R10 miljoen wil belê nie. Die vraag is dan, met al die keuses en produkte, is gewaarborgde beleggings uitgedien en outyds, of is daar steeds ‘n plek daarvoor?
‘n Paar jaar gelede het ek geredeneer dat gewaarborde beleggings uitgedien is. Waarborge kos geld en gewaarborgde beleggings het selde inflasie uitpresteer, wat nog van welvaart skep? Vandag sing ek egter ‘n ander deuntjie.
Die hele wêreld voel deurmekaar en dinge gebeur baie vinnig op finansiële markte wêreldwyd. Dit skep onsekerheid onder beleggers, asook wat die opbrengsuitkoms van enige belegging gaan wees. Al die onsekerheid van die laaste paar jaar, maar ook tans, het tot gevolg gehad dat finansiële instansies met ‘n nuwe generasie gewaarborgde produkte vorendag gekom het.
Die produkte is beskikbaar om “gewone geld” in te belê, maar daar is ook produkte vir die persone wat pensioengeld moet belê. Anders as konvensionele, gewaarborgde produkte, kan die nuwe-generasie, gewaarborgde produkte ook goeie opbrengste oplewer, wat inflasie gemaklik uitpresteer, terwyl dit jou kapitaal waarborg (of selfs ‘n sekere minimum opbrengs waarborg).
Ek is oortuig daarvan dat beleggers maar weer gewaarborgde produkte kan begin oorweeg as deel van hul groter beleggingsportefeulje. Maak egter seker jy verstaan die produk se waarborg, weet wat word gewaarborg, en wat die voorwaardes vir die waarborg is.
Maak ook seker wie die waarborg verskaf. Ons het al in die verlede gesien dat sekere produkte se waarborge nie die papier werd is waarop dit geskryf is nie. Jy kan egter gevestigde handelsname met gewaarborgde produkte vertrou.
Gesels dus gerus met jou finansiële beplanner rakende gewaarborgde produkte, jy sal baie rustiger slaap in ‘n onsekere wêreld. Jy is ook welkom om my te e-pos na horace@nassaux.com met jou vrae, of kontak my by 051-430 0302.

HORACE TERRY
horace@nassaux.com