Is emigrasie deel van jou beplanning?

0
127
Photo: BusinessTech

Die moontlikheid van emigrasie is deesdae deel van menige jong en middeljarige persoon se finansiële beplanning.

Die aspek van “moontlike emigrasie in die toekoms” maak dit moeilik om sinvolle finansiële beplanning te doen terwyl jy in Suid-Afrika is. Indien jy natuurlik klaar jou besluit geneem het en jy reeds in die proses van emigrasie is, is dit ‘n ander saak.

Daar is egter baie mense wat emigrasie sterk oorweeg en glo dat hulle wel iewers in die toekoms gaan emigreer, maar hulle het nog nie daardie finale besluit geneem nie en het geen duidelikheid oor die tydraamwerk nie.

Die persone wat steeds onseker is oor emigrasie, sal saam met hul finansiële beplanner moet gaan sit en ‘n unieke finansiële plan uitwerk. Die gevaar is dat indien daar ‘n kans is dat jy nie gaan emigreer nie en in Suid-Afrika gaan aanbly, jou finansiële plan só geposisioneer moet wees om ook dié besluit te kan akkommodeer.

Versekering is gewoonlik nie ‘n probleem nie. Jy het lewensversekering in Suid-Afrika en wanneer jy geëmigreer het, kan jy versekering in ‘n ander land uitneem en dié in Suid-Afrika kanselleer. Maar wat van jou aftrede en ander algemene spaarbehoeftes? Maak dit sin om honderdduisende rande, of selfs paar miljoen rand in aftreefondse soos uittree-annuïteite te spaar indien jy wil emigreer?

As jy geld in ‘n uittree-annuïteit het en jy wil die geld onttrek vir emigrasie, gaan jy vir jouself (waarskynlik) aansienlike belastingimplikasies op die hals haal. Verder is daar die tydrowende proses van “finansiële emigrasie” waardeur jy eers sal moet gaan voordat jy uit ‘n uittree-annuïteit sal kan onttrek.

In so ‘n geval soos hierbo genoem, sou jy finansieel beter af gewees het indien jy eerder in iets soos ‘n belastingvrye belegging of gewone effektetrusts gespaar het. Indien jy egter een van diegene is wat nou van plan is om te emigreer, net om later te besluit jy gaan eerder in Suid-Afrika aanbly, sou jy weer verloor het deur nie ‘n uittree-annuïteit te gehad het nie.

Dus, die besluit om te emigreer (of nie), kan geweldige implikasies vir jou finansiële welstand in die toekoms inhou. Emigrasie is dus ‘n aspek wat vandag se jong en middeljarige persone met hulle finansiële beplanners moet deel en vir hul finansiële beplanning in ag moet neem. Kontak my gerus indien jy meer oor die onderwerp wil gesels.

horace@nassaux.com