Is dit nog moontlik om te spaar?

0
316

Ek glo nie dit is nodig om te noem dat mense swaartrek nie. Ek kan agterkom uit my daaglikse interaksie met kliënte, dat mense se salarisse net nie meer die volle maand hou nie.

Mense klop gereeld by my kantoor aan om ‘n paar rand ekstra uit hul belegging te kom trek, of om die inkomste uit hul belegging te verhoog, net sodat hul maandelikse begroting kan klop.

‘n Algemene beginsel wanneer dit by finansiële beplanning kom, is dat jy ten minste ses maande se inkomste of salaris iewers beskikbaar moet hê, in geval van nood of onvoorsiene uitgawes, jou sogenaamde Noodfonds of Gebeurlikheidsfonds.
Indien ek nou vra hoeveel van julle ‘n noodfonds in plek het, gaan die oorweldigende antwoord wees “nie ek nie”. Indien ek sou vra hoekom het jy nie ‘n noodfonds in plek nie, gaan die antwoord wees: die lewenskoste is doodeenvoudig te hoog, daar is nie nog geld vir spaar ook nie.

Dit is eintlik kommerwekkend, want indien jy nie kan spaar om ‘n noodfonds in plek te kry nie, beteken dit dat jy ook nie voldoende kan spaar vir jou kinders se studies of jou eie aftrede nie. Om dus heeltyd te sê dat my begroting laat nie spaar toe nie, gaan nie die probleem laat weggaan nie, en iewers gaan jy in ‘n verknorsing sit.
Jy sal dus ‘n plekkie in jou begroting moet vind vir spaar, hoe gering ook al aanvanklik. Indien jou begroting dus beperk is, sal jy jou uitgawes moet gaan prioritiseer. Almal van ons het uitgawes wat ‘n noodsaaklikheid is, maar daar is daardie uitgawes wat ‘n “nice to have” is…

Gaan druk jou paaiement wat jy gaan spaar iewers bo hierdie “nice to have”-items in, en laat eerder iets anders verder af in jou begrotingslysie weg; jy sal weet wat. Dus, prioritiseer spaar, net soos met jou kos, brandstof en water en ligte. Jy gaan in die toekoms bly wees jy het dit gedoen.

Moet ook nie een of ander indrukwekkende spaarproduk met allerhande “bells en whistles” gaan uitneem nie. Kry vir ‘n begin net ‘n doodeenvoudige effektetrustfonds in plek. Effektetrustfondse is goedkoop (lae koste), en lewer met tyd goeie opbrengste. Gesels met my as jy meer oor effektetrustfondse wil weet.

Horace Terry 
horace@nassaux.com