Is dit nodig om versekering te hê?

0
617

Het ek regtig al die versekering nodig? Sou dit nie beter wees om die geld wat ek aan versekering bestee, eerder te spaar en dan veel meer met aftrede te hê nie?

Dit is vrae wat seker weekliks deur kliënte aan my gestel word. Natuurlik is dit ‘n vraag wat ek nie korrek sal kan beantwoord nie, tensy ek ‘n kristalbal het waarmee ek kan sien wat in die toekoms voorlê.

Wat ek wel kan sê, is dat ‘n mate van lewensversekering vir elkeen, na gelang van sy behoeftes, nodig is. Almal van ons kom een of ander tyd te stewe. Die vraag is of jy versekering moet hê teen ongeskiktheid, of gevreesde siektes, of moet jy korttermynversekering uitneem vir jou motor, huis en huisinhoud?

As jy my dié vraag sou vra, gaan ek eers vir jou vra of jy ongeskik verklaar gaan word, of gaan jy ‘n gevreesde siekte opdoen, gaan jou motor gesteel word, of gaan dit in ‘n ongeluk beskadig word? Jy gaan waarskynlik antwoord dat jy nie weet of enige van die gebeurtenisse jou gaan tref nie. My antwoord sal dan wees dat dit waarskynlik wys sou wees om jou hierteen te verseker, aangesien enige van dié gebeurtenisse die potensiaal het om jou finansieel te ruïneer. Verder gaan jy ook nie alleen geruïneer word nie, maar jou afhanklikes gaan saam jou daaronder ly.

Op die ou end moet elke persoon self verantwoordelikheid neem van wat hy wil doen, of nie wil doen nie. Indien jy geen ongeskiktheidsdekking uitneem nie en die geld eerder spaar, en gelukkig genoeg is om deur jou lewe te gaan sonder om ongeskik verklaar te word, gaan jy ekstra voorsiening by aftrede hê. Maar wat as jy geen ongeskiktheidsversekering het nie en jy word wel ongeskik verklaar?

Dit is dus weer eens jou keuse of jy relevante risiko’s self wil dra en of jy die risiko’s wil oordra na ‘n derde party soos ‘n versekeraar. Versekering is een van die dinge in die lewe wat jy koop en hoop jy gaan dit nooit gebruik nie.

Maak net seker jy deurdink jou opsies behoorlik en dat jy eers met ‘n kundige gesels.

Horace Terry

horace@nassaux.com