‘Is dit jý?’

0
‘Is dit jý?’
Die Radio Kalahari Orkes. FOTO: FACEBOOK

Saterdag 28 September gaan ’n spesiale aand in Bloemfontein wees. Een van Suid-Afrika se gunstelingorkeste, die Radio Kalahari Orkes, speel op die Aasvoël Klub verhoog, én boonop is dit die orkes se voorsanger, Ian Roberts, se boekbekendstelling: ‘Is dit jý?’

“Ek het eintlik nie ’n groot inspirasie gehad [om die boek te skryf] nie. Ek skryf omtrent my hele lewe lank, my eerste toneelstuk het ek op die ouderdom van tien geskryf,” vertel Roberts aan Bloemfontein Courant.

‘Is dit jý?’ is ’n memoir wat Roberts tydens die pandemie begin skryf het. “Toe ons destyds soos skape gekraal is deur die regering in die Coronadebakel – toe bly ek waaragtag soos ’n gehoorsame burger binne,” het hy verduidelik. “Ek begin toe skryf aan dinge wat met my gebeur het in die teater en ‘movie’ bedryf … voor ek my oë kon uitvee, het ek 500 bladsye gehad.”

Ian Roberts se memoir: ‘Is dit jý?’. FOTO: VERSKAF

Die boek is geredigeer in samewerking met die redakteure van Jonathan Ball uitgewers. Roberts het sy ervaringe op papier neergesit, van sy kinderjare op sy pa se sitrusplaas in die Oos-Kaap, sy tyd as ’n akteur, en selfs meer onlangse ervaringe. “Even twee klein stories van die army is daarin!” het hy bygevoeg.

Die Radio Kalahari Orkes geniet hul tyd in Bloemfontein en daarom het hulle weer besluit om hier te kom optree. “Kyk, ons hou van Bloem,” vertel Roberts. “Ons is groot vriende met Nico, die bestuurder van TOMS musiekwinkel, en ons hou van die gehore by die Aasvoël Klub. Die plek van Hein is altyd so unaffected en gesellig, ek beleef dit altyd as ’n positiewe ervaring om daar te gaan optree.”

Benewens die nuwe boek sal daar ook ’n paar nuwe liedjies van die Radio Kalahari Orkes wees. “Ons het ’n paar nuwe nommers wat ons gaan uitsaai,” het Roberts verduidelik. “En dan natuurlik sal ek ’n storie of twee uit die boek vertel – wie weet, miskien sal ek iets voorlees!”

Die vertoning begin om 20:00. Kaartjies is R150 per persoon en is beskikbaar op WhatsApp – 084-559- 8991.

 

Warren Hawkins

warren@mahareng.co.za

No posts to display