Die komende week staan die Ironladies, ‘n groep vriendinne wat ‘n verskil in die gemeenskap wil maak, saam en bied ‘n ‘blanky’ dag vir minderbevoorregte mense aan.
Die winter is hier en geen persoon of dier verdien om koud te slaap nie. Daarom doen die Ironladies ‘n beroep op inwoners om die dag te ondersteun en ‘n bydrae te lewer deur ‘n nuwe of tweedehandse kombers te skenk.
Komberse sal na afloop van die dag aan ‘n koshuis geskenk word wat dit broodnodig het, sowel as aan Guardian and Angel Bloemfontein en Angel Arms.
Barmhartige Samaritane kan ook ouer komberse en beddegoed skenk wat aan viervoetige vriende by Walkers uitgedeel sal word.
Indien jy nie die dag kan bywoon nie, kan jy jou kombers by die IronLady Gym in Wilgehof afgee.
Daar word ook ‘n beroep op groepe en individue gedoen om hand op te steek indien hulself in nood is en komberse benodig.
Die ‘Blanky’ dag vind vanaf 15:00 by Pistons Pub en Grill plaas. Vir meer inligting kontak vir Liezéll op 072 330 1538, Charne op 072 645 9981 of Mariette op 072 281 2309.
Jeretha Oosthuizen