Irma Joubert stel nuwe roman by NALN bekend

0
1863

Die Bloemfonteinse skrywer, Irma Joubert,
se jongste historiese roman, Immer wes, het
pas landwyd op die rakke van boekwinkels
verskyn en Joubert het Bloemfonteiners self
meer oor haar nuutste werk vertel toe sy die
boek in die Rosestad bekendgestel het.
Die bekendstelling, wat by die Nasionale
Afrikaanse Letterkundige Museum en
Navorsingsentrum (NALN) gehou is, maak
deel uit van ’n landwye bekendstellingstoer
en Joubert se tuisdorp was die laaste stop
van die toer.
Immer wes is die eerste boek in Joubert se
nuutste trilogie. Al drie verhale het as kern
die lyding van vroue en kinders. Die roman
oorspan ’n tyd van meer as vier dekades
(1905-1947) en die historiese agtergrond,
wat die stramien van die teks vorm, maak dit
geskik vir ’n wye leserspubliek.
Joubert se boeke is ook oorsee treffer- 
verkopers. Immer wes is reeds in
Nederlands en Duits vertaal en Harper
Collins het Joubert se eerste roman, Tussen
stasies, vertaal vir verspreiding in Kanada,
Engeland, Nieu-Seeland, Australië en
Suid-Afrika.
’n Waarderende gehoor het tydens haar
plaaslike bekendstelling geluister na die
storie agter die verhaal van haar tiende
roman, die eerste van ’n beplande nuwe
trilogie. Joubert het op haar nou reeds
bekende en sprankelende manier die
navorsingsproses wat die skryf van die
boek voorafgegaan het, geskets en vertel
hoe haar karakters ’n eie lewe kry teen
die agtergrond van ingrypende historiese
gebeure soos die Eerste en Tweede
Wêreldoorloë.
Hierdie lekkerleesroman, wat strek oor
die twee wêreldoorloë en uiteindelik, via
Suid-Afrika, in Namibië eindig, beloof om
Joubert se lesers weer weg te voer na lande
en tye wat nie aan ons bekend is nie. Soos
altyd is die styl maklik, maar soos soveel
keer tevore, wys die skrywer ook die
donker kant van die mens.