Irawas verras en behaal sege

0
570

GEORG VAN ECK

Met Shimlas wat onoorwonne voortstoom in die Vrystaatse rugbyklubliga om die Stadsbeker is dit die stryd tussen die Ixias van SUT en Irawas van UV om die tweede en derde plekke op die puntelys wat die verbeelding aangryp. Crusaders het hul kans om vanjaar die Rowanbeker te buit en vir die nasionale klubreeks om die Cell C Gemeenskapsbeker te kwalifiseer ’n stewige hupstoot gegee toe hulle ’n sege van 24-9 oor Bloemfontein Polisie in die Clive Solomon-stadion behaal het en beklee nou ook die vierde plek in die wedloop om die Stadsbeker.

Vir Crusaders het sy agttal met Darius Viljoen aan die spits sy man deeglik teen die swaar voorspelers van Polisie gestaan en dit het aan die agterspelers kans gegee om drieë te druk. Die man wat dié kanse met albei hande aangegryp het, is die deurwinterde senter, Eddie Fredericks, wat twee keer gaan druk het. In die SUT-stadion het Shimlas gewys waarom hulle die kampioene is. Die studente het onder aanvoering van Robbie van Schalkwyk nie net ’n vurige aanslag van die Tjisas van SUT afgeweer nie, maar uiteindelik elf drieë ingeryg vir ’n sege van 71-6. Franna du Toit het 19 van sy span se punte aangeteken.
Anders as wat die telling aandui, het Tjisas met tye hardnekkig weerstand gebied en het manne soos Lean-Luc van Zyl, Franco Naude en Kevin Pretorius hard ingeklim

Ongelukkig was Tjisas se verdediging swak en het die Shimlas soms te maklik deurgekom.
Hoewel die agterspelers sewe van die Shimlas se drieë gedruk het, was dit die voorry, Franco van der Merwe, Wickus Deysel en Justin Pappin, wat die grondslag vir die sege saam met Tienie Burger, Riaan Schoeman en Armand Koster met goeie balbesit gelê het. Die Ixias het aanvanklik die pas teen Irawas aangegee, maar ’n geel en later ’n rooi kaart wat die stut Danie van der Merwe gekry het, het die Ixias geknou.

Ixias was rustyd 20-10 voor, maar toe hulle vir die grootste gedeelte van die tweede skof met net 14 man moes klaarkom, het die Irawas met inklimspel die knoop 30-27 deurgehak. Vir Irawas het JC Astle, Ignus Nagel en Erik le Roux ’n barshou gespeel, terwyl Niel Marias, Beyers Louw en Kay-Kay Hhlongwane agter uitgeblink het. Deon Gouws, Ruan Lombard en Andrew Bester het die pap voor dik aangemaak vir Ixias en Marius Grobler en Duan Pretorius het agter sterk op die voorgrond getree.

Punte:

Shimlas 71 (40). Drieë: Marco Mason (2), Quinton Norris (2), AJ Coetzen (2), Franna du Toit, Riaan Schoeman (2), Justin Pappin, Wickus Deysel. Doel: Du Toit (8). Tjisas 6 (6). Straf: Naudé van Biljon (2). Irawas 30 (10). Drieë: Ricky van Straaten, Riaan du Toit, Ignus Nagel, Kay-Kay Hhlongwane. Doel: Beyers Louw (2). Straf: Louw (2). Ixias 27 (20). Drieë: Marius Grobler, Danie van der Merwe, Stephan Griesel. Doel: Duan Pretorius (3). Straf: Pretorius (2). Crusaders 24. Drieë: Eddie Fredericks (2), Gavin Pitt. Doel: Isak Job (2), Leroy Bitterhout. Straf: Job. Bloemfontein Polisie 9.
georg@centralmediagroup.co.za

Die bepalings vir die Vrystaatse rugbyklubliga om die Stad- en Rowanbeker vir die naweek is:
SATERDAG – SUT-stadion, 15:30: Bloemfontein-Polisie teen Ixias.
Shimlapark, 14:00: Irawas teen Tjisas en 15:30: Shimlas teen Crusaders.
Die bepalings en tye kan verander ná druktyd van Bloemfontein Courant.