Inwoners vir weke sonder water

0
583
Margaret Rynford (65), inwoner van Anna Magermanstraat in Heidedal, is raadop omdat sy al vir twee weke sonder water is. FOTO: PIERCE VAN HEERDEN

Inwoners van Anna Magermanstraat in Heidedal sit tans met hul hande in hul hare uit pure frustrasie nadat hulle reeds vir meer as twee weke sukkel sonder water. Een van die inwoners, Margaret Rynford (65), het aan Bloemfontein Courant gesê dat hulle voorheen normaalweg maandeliks aan die Mangaung-metro-munisipaliteit hul water betaal het. Sowat ‘n maand gelede is daar vir hulle voorafbetaalde watermeters geïnstalleer.

“Nou sit ons met die probleem dat die bewysstrokies (tokens) wat ons by die winkels koop nie wil werk met die waterboks wat hulle vir ons gegee het nie,” sê Rynford.
Sy vertel dat die paar huise wat op dieselfde dag as sy meters ontvang het, dieselfde probleem het.

Sy moet tans by mense in die volgende straat water gaan vra en dan ‘n hele entjie stap met swaar bottels water vir haar huis. “Ek het klien kinders hier by my wat water nodig het, maar daar bly niks in die krane nie.”

Rynford sê as hulle die munisipaliteit bel, word daar vir hulle gesê hulle sal mense uitstuur om te kom kyk wat die probleem is en hulle moet net geduldig wees. Maar soos die dae verbygaan en die winter naderkom, weet die inwoners nie meer watter kant toe nie.

Bloemfontein Courant het verskeie versoeke om kommentaar aan Qondile Khedama, Hoofbestuurder: Kommunikasie, by die Mangaung- metro-munisipaliteit gerig, maar geen kommentaar ontvang ten tyde van die ter perse gaan van Courant nie. – Sazly Hartzenberg
sazly@centralmediagroup.co.za