Inwoners sal baat vind by Kersmark

0
584
Van die pragtige geskenke wat deur die gemeente gemaak word

“Is vandag se kerke nog relevant? Soos wat die tyd aanstap en dinge verander, is dit ‘n vraag wat alle organisasies hulself van tyd tot tyd moet afvra,” sê ds. George Steenkamp van die Agapégemeente in Bloemfontein. “Die opvolgvraag is dan natuurlik: Wat moet ons doen of verander om ons relevansie weer vir ‘n slag af te stof?”.

Die leierskap van die Agapé-kerk het besluit om die kerk se Agapé-winkel oop te maak om mense wat onder druk is, by te staan. Behoeftige mense kan nou gebruikte klere (klere met ‘n storie) asook ander goedere letterlik vir ‘n appel en ‘n ei aankoop, teen so min as R10 vir ‘n goeie kledingstuk. Volgens Steenkamp maak ekonomiese toestande die rol van kerke letterlik daagliks al hoe belangriker. “Hulp aan mense wat swik onder die wurggreep van ekonomiese druk het nou noodsaaklik geword. Besighede, sowel as kerke, moet dus na nuwe ekonomiese modelle in dié verband begin kyk,” se hy.

“Dink maar aan al die enkelouers en senior burgers van ons gemeenskappe. Die inwoners van Bloemfontein het tot dusver waarlik hul volle gewig agter ons inisiatiewe ingegooi t.o.v. skenkings in die vorm van klere en tweedehandse goedere. Ons sien daagliks hoe hulle saam met ons kan deel in die voorreg om sinvolle, gebalanseerde ondersteuning aan die inwoners van ons Rosestad te gee. Ons sien die glimlagte van verligting al hoe meer in ons winkel,” voeg hy by.

Die Agapé-winkel se doel is om ‘n meer gefokusde diens aan die gemeenskap te lewer en die gemeente wil in die toekoms die winkel uitbrei.
Steenkamp sê elke bydrae, groot of klein is baie welkom.

Die kerk hou ook sy laaste aandmark vir die jaar wanneer die Kersmark van 17:00 tot laat op 1 November 2019 plaasvind. Vir meer inligting kan Steenkamp geskakel word by 083-327-2799.

info@bloemfonteincourant.co.za