Inwoners gefrustreerd oor diefstal by parkie

0
463
Universitas-inwoners wat bekommerd is oor die parkie in die gebied waar mense goed steel of breek, is van links, Gawie van den Berg, Veronica Verwey en John Skhosana. FOTO: PIERCE VAN HEERDEN

Inwoners van Universitas, wat al sedert 2005 aan die parkie in die omgewing werk, is raadop nadat daar elke nou en dan iets wegraak of gebreek word en dit nou hul sak begin raak. Veiligheid het ook ‘n probleem geword.

Een van die inwoners, Gawie van den Berg, het aan Bloemfontein Courant gesê dat daar sowat 11 lede is wat elke maand ‘n finansiële bydrae maak om die parkie in stand te hou. Hy vertel hoedat daar verlede naweek ‘n tafel met mosaïekteëls, wat een van die mense in die area mooigemaak het, by die parkie gesteel is. Hulle het dit later in een van die strate in Universitas gekry.

Nog ‘n inwoner,Veronica Verwey, sê die inwoners probeer regtig mooi na die parkie kyk. Met Bloemfontein Courant se aankoms by die parkie in Kwartsstraat, was Verwey en John Skhosana (iemand wat hulle help skoonmaak) besig om rommel op te tel en die plante water te gee.

“Meeste van die ouer mense trek weg en maak plek vir studente. Die probleem is dan dat die studente nie bydra nie, so dit raak ons sakke al hoe meer,” verduidelik Verwey.
Sy vertel dat daar vandalisme is. Padtekens, straatname en tafels word weggedra. Goed waarvoor inwoners betaal het, word deur vandale verwoes. Al die plante en bome in die parkie is deur inwoners geplant en hulle sien weekliks om na die park. Van den Berg voeg by dat daar mense kom wat daar vuurmaak en hy voel dat dit gevaarlik is, veral vir die kinders wat kom speel.

Volgens Verwey is die parkie belangrik vir die inwoners, veral ook vir ouers en kinders. Hulle het dus besluit om elke Dinsdag die plante water te gee en rommel op tel. Sy verduidelik dat Skhosana met emmers water moet loop om die plante nat te gooi. “Ons sit harde werk in en dan kom mense en mors dit op. Op Saterdae en Sondae is die plek vol, dit word gereeld gebruik en daarom probeer ons mooi daarna kyk.”

SAZLY HARTZENBERG
sazly@centralmediagroup.co.za