Inwoner raadop oor vullis voor huis

0
162

‘n Inwoner van Raymond Mhlabastraat ( ou Andries Pretoriusstraat) in Navalsig is raadop. Dit nadat sy nou al vir meer as ‘n jaar sukkel met vullis wat voor haar huis gegooi word.

Die inwoner, wat op voorwaarde van anonimiteit met Bloemfontein Courant gepraat het, het gesê dat sy telkemale die eienaar van die gebou van waar drie besighede sake doen, gekontak het oor die probleem, maar steeds gebeur daar niks.

Sy het verduidelike dat daar drie besighede op een eiendom is, ‘n wegneemetesaak,  ‘n stoffeeronderneming, wat stukke materiaal wat hulle nie meer gebruik nie voor haar huis gooi, en  ‘n bandebesigheid, wat hulle ou bande voor haar huis afgooi. “Gedurende die dag gebruik hulle die voorkant van my huis om die bande te adverteer,” vertel sy.

“Die toilet by die wegneemeteplek was stukkend en iemand het toe ‘n nuwe toilet kom insit. Nou lê die gebreekte een in stukkies voor my huis.

Ek het ‘n paar keer aan die eienaar van die gebou ‘n WhatsApp gestuur, selfs met foto’s van die klomp vullisvoor my huis. Hy het reageer deur te sê hy sal met die besighede praat, maar as mens weer sien, is daar net nog meer vullis.” Courant het by die eienaar probeer kommentaar kry, maar het geen reaksie gekry nie.

Sazly Hartzenberg

sazly@centralmediagroup.co.za