Inwoner raadop oor geld vir besering aan diens

0
1191

‘n Bloemfonteinse inwoner, wat gebuk gaan onder die gevolge van ‘n aanranding by sy werkplek, dra nou ook ‘n skuldlas wat hy nie meer kan delg nie.

Die inwoner, wat versoek het om anoniem te bly, het aan Bloemfontein Courant vertel dat hy sedert 2018 werkloos is nadat hy by sy werk aangerand en met ‘n mes gesteek is. Dié voorval het hom só erg getraumatiseer dat hy moes ophou werk.

Howel hy sedert 2018 gereelde betalings van die Departement van Arbeid se Vergoedingsfonds ontvang het, het dié betalings skielik in Oktober 2019 opgedroog. Hy sê hy het sedertdien gebel om te probeer uitvind wat aangaan, maar daar is vir hom gesê hy moet geduldig wees omdat die departement is in die proses om oor te gaan na ‘n nuwe stelsel. Hulle het hom verseker alles na die oorskakeling weer 100% sou werk. Volgens hom het hy elke keer sy vorms ingedien om sy betaling goedgekeur te kry, maar niks ontvang nie.

Hy vertel dat die departement aan hom verskeie datums gegee het wanneer sy geld vir hom gestuur sou word, maar in hierdie stadium skuld hulle hom byna drie maande se geld. Hy moes ook na die aanval by die werk sielkundige behandeling ontvang. Daardie rekeninge raak ook agter want hy moet dit uit sy eie sak betaal. Hy en sy vrou bly tans by hul dogter. Die hele situasie plaas druk op almal in die huis.

Hy sê hy kry steeds geen antwoord as hy bel nie en hy voel die departement gee nie om hoe mense se lewens verander deur hulle toedoen nie. “Dit gaan werklik sleg met ons en ek weet nie meer watter kant toe nie.”

Volgens hom is die saak uit sy vorige werkgewer se hande en die departement moet hul deel doen.

Bloemfontein Courant het by die Departement van Arbeid vir kommentaar gevra, maar teen druktyd steeds niks ontvang nie.

Sazly Hartzenberg
sazly@centralmediagroup.co.za