Investeer in hulpbronne

0
945

Servaas de Kock

Die wêreldwye web is aan die einde van April 2013 twintig jaar oud. Op 30 April 1993 is die wêreldwye web amptelik oopgestel vir die publiek se gebruik. Wanneer ’n mens ’n webtuiste gebruik, is dit amper onmoontlik om te dink dat hierdie dinamiese stuk tegnologie net twintig jaar oud is. In die twintig jaar wat verby is, is daar verskeie suksesverhale van webtuistes wat begin is en ongelooflike sukses behaal het, teenoor webtuistes wat ’n absolute mislukking was.

Ek wil nie veralgemeen nie, maar een belangrike elemente wat uitgesonder kan word oor die twintig jaar, is die hoeveelheid hulpbronne wat geallokeer is aan ’n bepaalde projek of webtuiste. Vandag kan ’n mens dit meer sien as vantevore waar die webtuistes wat die nodige hulpbronne gehad het in die meeste gevalle baie beter presteer het as die webtuistes sonder enige hulpbronne.

Net soos met bemarking is dit nodig dat besighede moet investeer in hul digitale strategie om ’n sukses daarvan te maak. Daar moet nie net geïnvesteer word in tegnologie nie, maar ook in hulpbronne om hierdie strategie te kan implementeer en uitvoer.
’n Besigheidseienaar wat ernstig is oor sy digitale strategie sal seker maak dat hierdie nodige hulpbronne in plek is.
Hulpbronne wat jou digitale strategie implementeer en uitvoer moet nie gesien word as ’n uitgawe nie, maar eerder as ’n belegging om jou besigheid se bewustheid te verhoog in die digitale omgewing.

*De Kock is die algemene bestuurder van die Digital Platforms, webtuiste en ontwikkelingspesialiste.