Internasionale bariton Donderdag op plaaslike verhoog

0
367

Die internasionaal bekroonde bariton, Maarten Koningsberger, saam met die geliefde SA pianis, Albie van Schalkwyk, voer vandag Schubert se volledige sangsiklus Winterreise in die Odeion uit. Koningsberger het ‘n suksesvolle, gevestigde Europese loopbaan in opera- en liederuitvoerings met ‘n repertorium wat strek van werke van Monteverdi tot Maderna. Hy het in Amsterdam studeer en sy onderwysers sluit Max von Egmond, Udo Reinemann en Margreet Honig in. Nadat hy gegradueer het, het hy by die School of Lyric Art van die Opéra de Paris ingeskryf. Sy uitgebreide solo-repertorium sluit die bemeestering van standaard- en periode uitvoerstyle in. Hy word gereeld deur vermaarde kunstenaars soos Irwin Gage en Graham Johnson begelei en het al CD-programme van liedere van Schubert, Schumann, Milhaud asook solo-kantates van Campra en Blakenburg opgeneem.
Van Schalkwyk het homself oor die afgelope 30 jaar as uitvoerder in verskeie velde gevestig. As een van die leidende kamermusici en vokale begeleiers in Suid-Afrika, het hy al as solis met SA orkeste en solo-uitvoerder en aanbieder van meesterklasse vir sangers en begeleiers opgetree. Hy was ook musiekregisseur by die SAUK. Verder doen hy ook verwerkings vir verkeie instrumentkombinasies. Nadat hy ‘n B.Mus-graad by die Universiteit van Kaapstad onder leermeester Lamar Crowson voltooi het, het hy in Londen onder Geoffrey Parsons, Gwenneth Pryor en Martino Tirimo studeer. Gedurende hierdie periode wen hy die UNISA Overseas Scholarship sowel as die eerste prys in die SABC Music Prize Piano Competition. Terug in SA tree hy as amptelike begeleier en regisseur by die SAUK op. Hy was lid van verskeie bekende SA ensembles. Sy vennootskap met Oostenrykse tjellis, Heidi Litschauer, het gelei tot twee uitgebreide toere deur Suid-Afrika en jaarlikse besoeke aan Oostenryk. Sy belangstelling in vokale musiek en die kunslied – in besonder – het gelei tot verskeie vervullende konsertvennootskappe met sangers en die stigting van die Liedmakersgilde in 1994.Toegang is R100 (volwassenes), R80 (pensioenarisse), R60 (UV-personeel), R40 (studente en leerlinge) en R40 (groepbesprekings van 10+). Kaartjies is beskikbaar by Computicket