Maricelle Botha
Toe Werner Schmidt een middag op die mat lê en speel het my sy driejarige dogtertjie, Petro-marié, het hy min geweet dat dit die begin van ‘n unieke teaterervaring sou wees.
Net daar is Plat Anna, die paddatjie wat opgestaan het, gebore, of soos sy in Engels en Sotho bekendstaan, Flat Anna, the froggie that stood up/Anna Sepatlapatla, senqaqana se ileng sa ema tswe.
Plat Anna is ‘n ou bleeksiel in die vleiland waar sy woon en soos dit in die natuur gaan, is daar natuurlik ook gevare in die vleiland wat die inwoners se lewe omkrap. Tyron
O ‘Saurus is ‘n dinosaurus met ‘n groot aptyt vir die vleilandinwoners. Máár Plat Anna het ‘n plan om Tyron op sy neus te laat kyk en met die hulp van die boere in die omgewing bring hulle Tyron tot nuwe insigte.
Hierdie toneelstuk debuteer binnekort by vanjaar se Vryfees, maar Schmidt het reeds ‘n paar baie suksesvolle promosionele optredes by skole in die stad gehad. Hy en Rita Chihawa deel die verhoog en wissel gemaklik tussen die verskillende tale om Plat Anna se verhaal oorgedra te kry.
Schmidt beskryf die produksie as ‘n ritmiese vertelling getrou aan die Afrika – tradisie met bongo-tromme en kitaar. Saam met die stuk kry elke teaterganger ‘n aktiwiteitboek en die die hele ervaring word afgesluit met relevante feestelikheid in die vorm van ‘n reuse-pizza-partytjie. Pizza staan natuurlik sentraal in die verhaal, maar laat ons nou nie vir ‘Plat Anna uit die mou laat nie’.
Die stuk is gemik op kinders van 4 tot 9 jaar en natuurlik diegene wat jonk van gees is.
Schmidt vertel dat dit nie slegs ‘n verhaal is van ‘n klein, tingerige paddatjie wat opstaan nie, maar ook een wat fokus op natuurbewaring en die positiewe boodskap uitdra dat ‘n mens moet vergewe en ander die voordeel van die twyfel moet gee sodat mense kan verander.
Kaartjies vir hierdie unieke produksie is reeds by Computicket beskikbaar.
maricelle@centralmediagroup.co.za