E Copy

Date:

Insleepdienste ‘ruk hand uit’

Provinsiale nooddienspersoneel word tot die uiterste beproef deur werknemers van sommige insleepdienste. “Hulle maak die lewe vir paramedici hel.” Dit is by monde van die Vrystaatse Departement van Gesondheid se woordvoerder, Mondli Mvambi, nadat twee afsonderlike voorvalle waarin paramedici na bewering deur insleepdienspersoneel op ‘n ongelukstoneel aangerand is, binne die bestek van twee weke plaasgevind het. Mvambi sê Saterdagaand is ‘n paramedikus van die provinsiale ambulansdiens, Yvonne Peter, glo aan die hare rondgepluk, geskop en met ‘n onbekende voorwerp geslaan. Dit het gebeur op ‘n ongelukstoneel waar ‘n motor, met drie insittendes, teen ‘n trein in Heidedal vasgery het. Peter het beserings aan die kop, skouer en maag opgedoen en is in die Nasionale Hospitaal behandel.
Mvambi het sedertdien verskeie klagtes van die publiek ontvang oor werknemers van insleepdienste wat op ongelukstonele hand uit ruk. Daar is veral rede tot kommer oor hoe insleepdienste so vinnig inligting oor ongelukke bekom, want in baie gevalle is hulle “vinniger as nooddienste op ‘n toneel”. Daar is vermoedelik ‘n vorm van omkopery, sê hy.
In die eerste voorval meer as ‘n week gelede het ‘n 41-jarige paramedikus, ook van die provinsiale ambulansdiens, op die N8 rugbeserings opgedoen nadat hy deur ‘n personeellid van ‘n insleepdiens teen ‘n motor gestamp is. Mvambi sê paramedici was nog besig om ‘n beseerde te behandel toe die insleepdiens met hom wou praat.
Die departement het nou ‘n grootskaalse ondersoek begin. Regstappe gaan teen al die betrokkenes gedoen word.
JP Smit van JP’s Towing meen egter lede van insleepdienste word vals beskuldig. Hulle meng nie in op ongelukstonele nie en laat toe dat paramedici voortgaan met hul werk. Volgens hom word “kliënte” eers genader wanneer die “toneel afgehandel is”.
Smit se vrou, Tina, het Peter na bewering aangerand terwyl die beseerdes nog in die motor was. Hy ontken dat hy en Tina met Peter, wat ‘n ambulans bestuur het, handgemeen geraak het. Hy beskuldig haar dat sy onderweg na die toneel sy insleepvoertuig van die pad af probeer druk het.
Smit was op pad na Heidedal toe hy ‘n ambulans agter hom gesien het en padgegee het. Hy het agter die ambulans aangery en later na die regterbaan oorgegaan toe die ambulans, wat in die middelste baan was, sy insleepvoertuig teen die sypaadjie gedruk het. Toe hulle op die toneel aankom, het hy Peter, wat nog agter die stuurwiel was, gevra of sy hom nie gesien het nie. Sy het hom glo gevloek, haar deur oopgemaak en Tina is gestamp. Peter het Tina glo rondgepluk en die bodeel van haar top losgeskeur. Smit sê hy weet nie hoe sy vrou daarvan beskuldig kan word dat sy Peter geslaan het nie, want sy het haar geskeurde top met die een hand vasgehou om haarself te bedek. Met haar ander hand het sy probeer keer. Peter het haar blykbaar met ‘n pen in die gesig, bors en linkerarm gesteek.
Smit sê Tina het ‘n klag van aanranding teen Peter by die Heidedal-polisiekantoor ingedien.
Hierop sê Mvambi Peter is valslik beskuldig dat sy die insittendes van die wegsleepvoertuig se lewens in gevaar gestel het. Ambulanse moet voorkeur geniet op paaie. – Christal-lize Muller
christal-lize@centralmediagroup.co.za

Share post:

Popular

More like this
Related

Graduation season at CUT begins

The Central University of Technology in the Free State...

Shanela operations : SAPS arrest almost 13 000 nationwide

Through the high-density operations, known as Operation Shanela, the...

Higher Education Committee in FS for oversight visit

The Portfolio Committee on Higher Education started with their...

Police to investigate fatal shack fire in Bloemspruit

Residents of Phase 7 in Bloemspruit awoke to tragedy...