Inperking laat Cheetah Experience met min vleis

0
582

Cheetah Experience, ‘n geregistreerde nie-winsgewende teelsentrum vir bedreigde spesies in Bloemfontein, doen ‘n beroep op inwoners van die Rosestad om hulp te verleen sodat die diere daar gevoer kan word.

Die sentrum se vleisvoorraad is laag weens die inperking. Volgens Claire Lamond van Cheetah Experience is daar 28 cheetahs, 3 leeumannetjies, 1 mannetjiestier, 7 luiperds, 6 tierboskatte, 4 rooikatte, 2 bakoorjakkalse, 3 Afrika-wildekatte en 3 wolfkruisings.

Lamond het verduidelik dat die diere bees-, perde- en donkievleis eet asook pluimvee en wild. Die vleis moet vars wees en byvoorbeeld nie vir ‘n dag in die son gelê het nie en indien diere wat geskenk word medikasie gekry het, moet die veearts van Cheetah Experience eers geraadpleeg word om te hoor of die vleis steeds eetbaar is, aangesien dit dalk skadelik vir die diere van Cheetah Experience kan wees.

“Ons maak grootliks staat op vleisdonasies om ons diere te voer, so boere, skakel ons asseblief by die onderstaande nommer en laat weet as u ‘n karkas kan skenk. Ons sal reël dat dit afgelaai word of dat ons dit self kom haal,” sê sy. Lamond het aan Bloemfontein Courant gesê dat die lewe normaalweg voortgaan vir die toegewyde personeel wat op die perseel woon. Die personeel begin soggens om 06:00 werk en gaan eers huis toe saans as alles vir die dag afgehandel is. Alhoewel dit harde werk is, kry hulle steeds reg om alles gedoen te kry met ‘n glimlag op die gesig. Hulle weet hulle bring die inperkingstyd deur tussen diere wat nie net vriende is nie, maar ook familie.

Vir die diere het niks eintlik verander nie. Dis net heelwat stiller en Cheetah Experiencewerknemers gaan voort om skoon te maak, gras te sny en tussendeur aandag aan die diere te gee. “Ons het normaalweg tussen 12 en 18 internasionale en plaaslike vrywilligers wat enigiets tussen twee weke tot drie maande by ons deurbring. Die vrywilligers help dan gewoonlik met allerhande take soos die voorbereiding van vleis en kosgee van diere, asook skoonmaak van kampe en algemene onderhoudswerk.”

Lamond het ook verduidelik hoedat die inperking tot gevolg het dat die sentrum se vrywilligersprogram vir die eerste keer seder 2010 verander het aangesien daar vir die afgelope weke geen vrywilligers na vore gekom het nie. Dit het nie net ‘n invloed op hoeveel mense op die terrein is om te help nie, maar het ‘n groot fi nansiële impak op hulle almal. Soos vele ander fasiliteite en sakeondernemings, gaan daar baie fi nansiële druk en bekommernis vir Cheetah Experience daarmee gepaard. Om ‘n bydrae of skenking te maak, kontak asseblief Cheetah Experience by 072-905-3457.

Sazly Hartzenberg

sazly@centralmediagroup.co.za